Sjuut, luister, ek dink ek hoor waardevolle dinge groei …

Mei 29, 2014

My Helena-vriendin se seuntjie was nog baie klein – seker nog nie 3 nie – toe hy eendag op die kombuisvloer sit en speel en ‘n spinnekop sien. “Mona, daar’s ‘n spinnekop”, het hy dadelik die huishulp gewaarsku. Sy het hom egter nie gehoor nie, en onverstoord voortgegaan met haar werk.
Hy het weer gesê: “Mona, daar’s ‘n spinnekop.” Wéér het sy nie reageer nie.
Hy het ‘n derde keer, steeds ewe rustig, gesê: “Mona, daar’s ‘n spinnekop” En ‘n derde keer het sy hom óf nie gehoor nie, óf haar net nie aan hom gesteur nie.
Dis tóé dat hy vererg sis: “Kwits, ek raak so moeg vir die baie woorde!”

Kwits, ek ook soms! Dié dat ek nou eers skryf. Hierdie jaar het my effe onverhoeds gevang, met die vaart en die impak van ‘n fratsgolf. Heng, ons seil dan al langbeen en gelyk-lyf oor die 1ste kwartaal se hekkie! Waar is die dae heen? Hoop jou eerste 3 maande was orraait? Myne: Ek het innige simpatie ontwikkel met die Egiptenare in Eksodus. “… hulle [het] almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie ‘n enkele Egiptiese huis sonder ‘n sterfgeval nie.” (Eks 12: 30) My jaar het so begin. Op ‘n kol het ek gevoel ek ken nie ‘n mens sonder ‘n hartseer of ‘n groot ellende nie. En ek het bitterlik saam met hulle gehuil en gehoop en gelééf en geklou aan halms en brokke genade. Toe gaan kruip ek vir ‘n lang ruk net eers weg in stilte.

“Some stones are so heavy, only silence helps you carry them.” (Anne Michaels)

Relaas: Ek het darem steeds my werk gedoen – lekker in Ermelo, Vredelust, La Rochelle, Laingsburg, Sutherland en Beaufort-Wes gaan praat en sing. ‘n Interessante Vroue-wat-Glo oggend met Finesse lesers gehad in die Barnyard teater, Durbanville. En twee BAIE lekker artikels geskryf vir Kerkbode: een oor Nobuntu, wat in ‘n speelpark-blou skeepvraghouer berading doen vir “suicidal” tieners en hulle “troubled” ouers; en een oor Jomien, wat op Saterdae die kinders van Khayelitsha leer musiek maak.
Kyk gerus ook in April se LEEF (nou op die rakke) – daarin nooi ek 5 vroue uit die Bybel na ‘n Paas-ete by my aan huis …
En Gautengers, maak ‘n merk of ‘n knoop of ‘n duik of ‘n ding: Op 20 Junie doen ek en Elise Bosch ‘n lekker storie-en-songs show in die Atterbury teater saam met LIG. Meer daaroor in my volgende brief. Ek belowe dis binne 3 maande  🙂

Na jare se stilte – ons het geen woord van mekaar gehoor nie en mekaar ook nooit weer gesien nie – loop ek dié week ‘n tannie raak op wie se Karoo plaas ek in my 20’s gekuier het vir ‘n naweek. Sy’s grieperig en haar keel krap. Ek haal my (uiters effektiewe) Switserse Ricola streel-suigies uit my klanksak en gee dit vir haar. Want toe ek jonk was, was haar huis en haar hart oop vir my. Destyds se brood-op-die-water werp nou vir haar ‘n vruggie af. Die lang stilte tussen-in ten spyt. Niks het gesterf of verdwyn nie. Die waardering en medemenslikheid en omgee het waarskynlik net gegroei.

Die Pase lê nou voor ons deur. ‘n Gawe tyd vir stiller word. Mag jy daarin nuwe lewe en nuwe groei ontdek …
“…ook die maan gaan oop
hoe kan ‘n mens sê
maar alles gesels van ‘n nuwe rus:
die hart kom lê sy kop neer” – Breyten Breytenbach

Annalise

Advertisements

een lekker na die ander …

Augustus 27, 2013

Hier is ‘n blits briefie. Net om gou te laat weet: dit het WONDERLIK GOED GEGAAN met die opnames van my nuwe CD, Kyk Haar Oë! Ek is kniediep in my noppies en heerlik tevrede. Soos ek hier skryf word die meester finaal versorg in Pretoria. Nou nog net vir die omslag ontwerp en die drukkery en die repro en al daai dinge … Teen November het ons hom/haar in die hand! Ek hou julle op hoogte …
Maar vóór dan gebeur daar iets baie lekker waarvan ek dink julle sal wil weet: Ek doen ‘n konsert saam met Mathys Roets op 11 September 2013 by Eensgezind buite Durbanville. Navrae en Besprekings: Ilse 021 976 4106 / ontvangs@isales.co.za

Begin September gaan maak ek ook weer ‘n slag ‘n draai in Zimbabwe.
Nog ‘n lekkerte: Ek kon laasweek weer ‘n slag die Sielsgedagtes op RSG doen – met voorlesings uit my Driveway Divatjie boek. Het jy dit gemis? Gaan luister dan op http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.aspTik net in: Sielsgedagtes (aand) 19 – 24 Augustus
Ek groet julle op ‘n drafstap met ‘n vrolike wuif!
Annalise

lekke my boytjie!

Julie 16, 2013

Vat ons mos een Sondagaand my arme Ma hospitaal toe voor ‘n operasie. By daai hospitaal is nie TV by die beddens nie. Mens kyk saam-saam in ‘n oop, wagkamerige plek. Sewe, ag stoele om ‘n knie-hoogte koffietafel. Ons gaan sit daar. Dis toets krieket. Suid-Afrika teen Sri-Lanka. Naby aan ‘n naelbyt einde.

Vooroorgebuig, op die stoel naaste aan die TV, sit ‘n maer man in ‘n rooi, wit en blou gestreepte kamerjas wat lyk nes die tandepasta. Langs sy been af loop ‘n dreineringspyp na ‘n emmertjie toe wat by sy voet staan. Grillerig. Hy’s daarvan salig onbewus. Met sy oë vasgenael op die TV skerm, lewer hy ‘n running commentary op die krieket – of ons nou wil hoor of nie. “Lekke, nou’s da nog 8 bôlle oor en hulle short nog 10 runs. Ons kan maklik wen”. 3 Balle en ‘n 4 later: “O, hel, nou’s da nog 5 bôlle oor en hulle short nou nog net 6 runs. Ma ons kannit nog maak.”

Hy sit al hoe meer vorentoe. Klem sy hande. Toe daar nog “net 2 bôlle en 2 runs” oorbly, hou hy heeltemal op asemhaal. En dis net mooi tóé dat Peterson daai Sri-Lankaan boul dat sy paaltjies skoon uitmekaar spat! “Lekke, my boytjie”, skree Streepkamerjas, terwyl hy opvlie en ons almal hartvasgryp en terugdeins toe die bloedemmer by sy voet gevaarlik kantel. “Lekke, my boytjie! Binne-innie bus in! Die deure gat somme vanself oep!!”, juig hy, arms omhoog.

Toe alles weer tot bedaring kom, en die volgende kolwer inkom, sug hy tevrede: “Nou nog net 1 bôl en 1 run. Maklik. Sy oog is noggie innie. Ons gattie game vat.”
Maar toe slaan Sri-Lanka ‘n 4 van daai 1 bôl af en hulle wen die wedstryd.
Hy’t sonder ‘n woord sy emmertjie gevat en, hangskouers, die skemer gang af geslof. Shame.

Re-laas:   Sedert my vorige brief, het my liewe vriende toe mos ingespring/opgestaan/handegevat en ‘n versoek-brief aan julle almal gestuur oor my nuwe CD.  (Terloops, ek het besluit ek noem die nuwe CD: Kyk Haar Oë! – want die songs teken verskeie karakters in wie so oë ons almal al gekyk het, of steeds dikwels kyk …)

Julle reaksie op die brief het my uitgeboul!!!!
Al wat ek kan sê is: “Lekke my boytjie!”
Toe dit gelyk het of die bôlle hopeloos te min is vir al die runs wat ek sal moet maak, toe draai julle ruimhartigheid die game vir my.

Terwyl ek songs regskaaf en oorskryf tot so-goed-as-menslik-moontlik, stuur julle briewe en bydraes.
Ek is tot in my diepste siel ontroer. Eintlik heeltemal oorstelp! Vir soveel ondersteuning en bemoediging en geloof en liefde! Julle cheer my aan soos die wenspan, al is die game nog skaars halfpad. Dankie, so baie, baie dankie! Ek soen julle voete.

Dinsdag, 23 Julie, vlieg ek Pretoria toe en Woensdag, 24 Julie tot 6 Augustus neem ons die CD op by Odyssey Records. Matthys Maree doen die verwerkings en Fuzz is die klank ingenieur. Ek werk al sedert Blou Kitaar se dae saam met hulle en voel 100% veilig in hulle meer-as-bekwame hande. Ek sal op Facebook iets van die opneem-proses probeer weergee vir dié van julle wat nog nie Facebookvoos is nie.

Terwyl ek dan in Pretoria is, speel ek ook sommer die Driveway Divatjie show by die PIERNEEF TEATER,
Sondag 28 Julie 15:00 R90 / R70 kinders, studente, pensioenarisse
(012)329-0709 of info@pierneefteater.co.za
Ons gaan sommer ook daai dag ‘n live DVD opname maak, so, as jy naby is, tof jou op en kom deel in die opwinding …

En nou, omdat my hart te vol is vir woorde, en in die gees van julle almal wat vir my tot so ‘n geweldige groot seën is, kyk ‘n bietjie hier:
http://youtu.be/Rdq59ViNHWs
Met innige waardering,
Annalise

Annalise Wiid
http://www.annalisewiid.co.za

en dit was vrydag en dit was sondag en daar was SKY …

April 18, 2013

Ek wonder sommer: Wat het die Pase hierdie jaar aan jou gedoen? Jou siel verkwik? Jou hart geroer; gelaai met liefde? Of ongemerk en impakloos by jou verbygegaan?
Vir my was dit ‘n anderste Pase. Sonder kerktoegaan, maar nie sonder kerk nie. Vrydag, die Goeie, was stil. ‘n Leë dag wat besoeke en bedrywigheid betref. Vol egter van gedagtes, geliefdes; en boeke en beelde. ‘n Dink-en-ervaar-dag. Vol van allerlei onontbeerlikhede wat die lewe vir my kosbaar maak.
Die Sondag het ek wakker geword met die berg, gebeeldhou en blou teen ‘n skoon, gesuiwerde vroegoggend lug.
Ai, “lug” is tog vir my so ‘n toe, gedekselde woord. Die sug van die “u” so vasgeknyp, so ingeperk tussen die twee konsonant-konstabels. ‘n Gevangene, so vas soos asem in ‘n ballon. Of ‘n graf.
Sky klink soveel oper … Lê, lag ook, soveel wyer en vryer in die mond.
Paassondag se oggend was sky – die hemele oop, sag, Gods en bly …
En Händel se Messias het gesing: “Comfort ye, comfort ye My people … For her warfare, her warfare is accomplished, and her iniquity is pardoned …” Comfort ye My people. Troos jy hulle, teer. Mooi!
Dit was Vrydag en dit was Sondag en daar was SKY
En die Opgestane Gekruisigde was hier – by my, aan my eie tafel, in my heel eenvoudige brood, gebreek.
Re-laas: DRIVEWAY DIVATJIE, my mooi, dik, lekkerlees, lekkervoel, nuwe boek is vrygestel by die Woordfees – met ‘n heerlike show (en gehoor!) by die Dorpstraat Teater. Jy kan ‘n voorsmakie van die boek kry by:

Koop Driveway Divatjie by Exclusive Books of by http://www.annalisewiid.co.za (kliek net op DIE WINKEL en bestelvorm) of by 0861 668 368.
Dit is ook as e-boek beskikbaar by: http://www.kalahari.com
Die Eerste Kwartaal, het soos Paasnaweek, gekom en gegaan. Daar was baie gebeurlikhede en wonderlike geleenthede. Optredes by: Durbanville, Mosselbaai, Klerksdorp, die Groote Kerk in Kaapstad, Parow Welgelegen, Stellenbosch, Velddrif, La Rochelle, Brits en Birchleigh. Sowel as ‘n vinnige draai by Odyssey Studios vir ‘n klein bietjie opneem-werk. Ag, “recording” sê ook , soos sky, net soveel lekkerder en meer.

Nou lê daar optredes voor in De Aar (12 – 14 April), Heidelberg Kaap (17 April), De Eike gemeente Kuilsrivier (20 April), Komatipoort (10 – 12 Mei), Lééf se retreat buite Ladybrand ( 17 – 19 Mei) en ‘n kamp met Gamka-vallei gemeente van Beaufort-Wes (31 Mei – 2 Junie).
Sky is troos. Sky is moontlikhede. Sky is eindeloos en Goddelik. Sky is so altyd en so blou soos die berg.
… dit was Goeie Vrydag en dit was Paassondag … and SKY opened up in my soul!
Ek groet jou, met my voete steeds op hierdie stof-soet/bloed-en-blomme aarde én in die kerk en tussen die klippers, en my hart in die SKY,
Annalise

daar’s ‘n driveway divatjie op my kieriebaai kruiwa

Januarie 23, 2013

Dit reën Nuwejaarswense – nou al vir ‘n volle 3 weke lank. Ek voel van toontjie tot kroontjie deurdrenk van al die opregtheid en die voorspelbare dosis oppervlakkigheid. Voel my omring van poele vol inspirerende kreatiwiteit sowel as plasse vol niksseggende clichés. En steeds hou dit aan reën …
Ek skep en drink en bottel vir later. Van die verkwiklikste en lewegewendste woorddruppels wat die afgelope weke op my geval het, is hierdie eenvoudige, ryk frase vir my die heel mooiste: to nurture and nourish ...
Om te voed en te vertroetel. Liggaam. Gees. Siel. Drome. Werklikhede. Wonde. Vreugdes. Kinders. Veral kinders. Mekaar ook. Ander. Self.
Nurture and nourish.
Ek maak dit my mantra en my manna.
Ek vou ons almal daarin toe vir 2013 …
Want hierdie jaar bring opwindende uitdagings, stel enorme eise en verg intense fokus en matelose emosionele energie.
Vir my wag daar ‘n heerlike hoogtepunt: Ek dra mos so baie stories en songs in my rond dat ek elke af en toe die krane moet oopdraai en ‘n klomp van hulle loslaat …
My boek, DRIVEWAY DIVATJIE , word op 3 Maart 2013 met ‘n show by die Stellenbosch Woordfees bekendgestel.
Ek sal jou VREESLIK graag daai dag daar wil hê om saam met my te dans wanneer dit oorvloed reën!

Driveway-Divatjie-r

En moenie vergeet nie: Die aand voor Driveway Divatjie se launch hou ons One More Jimmelse Jôl innie City Hôl op Stellenbosch, ten bate van Badisa. Kry al die nodige info by http://www.badisa.org.za – kliek net op UPCOMING EVENT. Koop ‘n tafel, of ‘n kaartjie en kom! Dis tax deductible pret!
My diepdiephartwens is om in hierdie jaar ‘n nuwe CD op te neem. Hier lê al ‘n hele versameling vars songs opgehoop in my laai. Lewensbeskrywende songs oor the human condition, wat iets verwoord van ons alledaagse bestaan – ons soeke, onrus en stryd; ons liefde en geloof. Die songs sméék om nou opgeneem te word – al moet ek dit ook stuk-stuk doen, kruiwavrag vir kruiwavrag…
Einde laasjaar kry ek ‘n brief van ‘n vriendin, uit Lesotho. By hulle is die water min. ‘n Man stoot dit vrag vir vol vrag met sy kruiwa aan van ‘n ver bron af. Op sy kruiwa het hy ‘n kolossale blou plastiek sak, met wat lyk soos ‘n kraantjie. Dié sak gaan maak hy anderkant vol en bring dit dan vir sy mense om leeg te tap en van te lewe. So boer hy met water en blessings.
Hulle woord vir ‘n kruiwa is ‘n keribae. Hulle spreek dit uit “kieriebaai”. Maar vir my lyk die spelling altevol na “carry baie”.
365 dae “carry baie”! Dis dikwels beter om maar liewer, so aan die begin van die jaar, nie te weet presies hóé baie hy gaan carry nie. Wat 2013 se keribae ook al vir jou gaan aandra, mag jy ge-nurture and nourish word – genoeg en gereeld – en mag jy jou medemens nurture and nourish met hierdie soort Apache blessing-ervarings:
May the sun bring you new energy by day
May the moon softly restore you by night
May the rain wash away your worries
May the breeze blow new strength into your being
May you walk gently through the world
And know its beauty all the days of your lives
Ongeag hoe ver jy daai kruiwa van jou moet stoot …
Liefdegroete,
Annalise

kersfees in konteks

November 30, 2012

Hierdie jaar is dit De Doorns – die dorp waar ek as dogtertjie sulke sorgvrye, onvergeetlike vakansies by Oupa en Ouma omgekuier het.
De Doorns – die dorp waaruit ons kinders ‘n paar weke gelede moes vlug toe arbeidsonrus die kleintjies se veiligheid bedreig. Die dorp waarvandaan tóé talle noodroepe gekom het. “Bid vir ons!”, het ek uit verskeie benoude oorde gehoor, en gewonder: Wie is ons? Net ons geliefdes en ons naastes? Of ons én ons werkers/werkgewers? Of ons hele onrustige land, wat weerkaats in ons uit-balans-uit, brandende, opgefoeterde vallei?
En wat presies moet ek dan nou bid …? Wat is gebed in so ‘n konteks?

De Doorns – die dorp waarin verhoudings die afgelope weke tot só ‘n mate verbrokkel het en so uitgekalwer is dat vrede en vertroue vir lank nog aan flarde gaan hang.
De Doorns – die dorp waarheen Kersfees 2012 op pad is; waar Kersfees 2012, ongeag alles, gevier gaan word!

Met die Kers-aanloop, sing ek by verskeie Kerssangdienste. Een lied gryp my vanjaar meer as tevore: Die Engele Sing.

Ek hoor die engele sing van vrede, van vrede
Want God se mens-geboorte sluit ‘n nuwe lewe oop
Ek hoor die engele sing: vrede, vrede
Want God-in-‘n-stal bring ‘n nuwe soort van hoop
Vrede op aarde, sing die engele koor, vrede op aarde
Vrede op aarde, as jy die engele kan hoor
Vrede op aarde, maar hoeveel vrede bly daar oor
As jy die folterkrete hoor uit Ragel, uit Rama
As jy sien hoe loop die bloedspoor van ons boosheid en ons nood
As ouers troosloos huil in Houghton, in Nyanga …
(Matt 2: 16 – 18; Die Engele Sing, Lig Uit Lig/Sterre In Ons Oë DVD/CD)

Maar hierdie jaar verander ek die woorde. Vanjaar sing ek:

As ouers troosloos huil in Marikana, in De Doorns
As jy proe hoe pynlik bitter bak die onreg soms die brood …

Ja, inderdaad, hoeveel vrede bly daar oor?

 

Re-laas:  2 wonderlike besoeke aan die Laeveld, ‘n onvergeetlike Rietbron optrede (waar hulle amptelike sanggroep, die Rietbrommers, my verras het met ‘n lied wat hulle spesiaal vir my kuier geskryf en meesterlik ge-perform het), die laaste kamp van die jaar met Kuilsrivier-Suid se vroue langs die see by Bettiesbaai en Kersliedere/eredienste in Nelspruit, my eie Helderberg en Moorreesburg – dit lê nou alles, saam met 2012, agter my rug.

In die stukkie jaar wat oorbly, gaan ek nog:
• 7 Kers-meditasies vir RSG skryf en opneem – dit sal in die week van Kersfees uitgesaai word en
• ek wil nog graag die ONE MORE song wat ek vir Badisa se fondswerwingsveldtog geskryf het klaar opneem.
Op 1 Desember om ongeveer 08:15 saai die nuwe Kaapse Kansel op 729 AM ‘n Kers- en Nuwejaarsonderhoud met my uit – vir dié van julle wat dalk sal wil luister.

SAVE THE DATE!
• 2 Maart 2013: One More Jimmelse Jôl innie City hôl – Badisa se skitteraand in Stellenbosch se stadsaal wat jy nie mag mis nie. Spaar solank jou splinternuwe Madiba gelde – dit gaan sóóóó lekker wees!
• 3 Maart 2013: My nuwe Driveway Divatjie boek word vrygestel met ‘n show (en eetgoed) by die Stellenbosch Woordfees – vir almal wat nog kan jôl ná die City Hôl!
Meer detail in my Januarie nuusbrief …

Nou gaan ons eers die Kerstyd tegemoet.

 

Ek wonder: Hoe sal Kersfees 2012 op die De Doorns-konteks inspeel?
Hoe sal die feit dat God mens geword het, die feit dat Hy self in ‘n tyd van ellende en geweld gebore is – hoe sal dié Kersboodskap ‘n verskil kan maak in De Doorns as die klippe en die k….r-woord roekeloos en woedend rondgegooi word? As vroue met verkragting gedreig word wanneer hulle nie na die opruiers se pype dans nie. As kinders in die wingerde gaan skuil – beangs oor die hordes wilde, bewapende ooms.

Hoe sal die wete van “só lief het God die wêreld …” die gelowiges in De Doorns help om plofbare situasies met wysheid, durf, takt en deernis te hanteer; om buite die boks te dink en werkbare oplossings te vind; om oop te wees vir God-in-hierdie-konteks?
Sal Christus vanjaar méér as net gevier word – met Kersversierings en -vrolikheid?
Sal Hy ook geken word – in nederigheid en sagmoedigheid en ‘n Goddelike, medemenslike welbehae?

Waar daar liefde is …, daar is God die Heer.
Immanuel!

… Dwarsdeur kwaad en dwarsdeur goed
bly die engele nog sing van vrede in onvrede
As die hemel op ons aarde met mense voete loop
Dan hoor jy engele sing: vrede, vrede
Want God-in-sy-kinders leef ‘n nuwe soort van hoop …

Mag God met en in jou wees hierdie Kerstyd en (ook in jou konteks) vir, in en deur jou diep en blywende vrede bring.
Baie dankie vir jou lojale ondersteuning deur hierdie jaar – jy was vir my een van daai mensvoet-engele!
Liefdegroete,
Annalise

http://www.annalisewiid.co.za
https://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

‘n fyn net

Oktober 3, 2012

Ek het vir my ‘n vrolike geelbont rok gekoop. Pure freesia-ruiker en ranonkel tuin in die lente! Uitgelate. Dalk selfs ‘n tikkie uitspattig as jy my jare en postuur in gedagte hou. So what! Die rok is ‘n onbevange lag; ‘n guitige flirtasie; ‘n uitstrek-arms rondomtalie. Die rok is ook ‘n borswering. ‘n Hart-harnas van sagte, kleurvolle lap.
Jy sal vra: Hoekom? Hoe?
En ek sal sê: My blomtuin rok versag die aanhoudende gegrom van die soveelste renoster karkas, die soveelste korrupsie klag, die soveelste stuk snydende kerk kritiek, die soveelste gekke moord, inbraak, opstand, vernietigde droom, vermorselde mens …
Help dit?, sal jy vra.

In sy boek The Dun Cow, skryf Walter Wangerin van die wrede monster wat onder die aarde bly, wat gedurig dreig om uit te breek uit sy donker kelder, gedurig wil bars deur die aardkors om mens en dier te verslind. En al, ál wat hom teëhou, is ‘n fyn net wat oor die aarde span: ‘n delikate, maar ondeurdringbare web, geweef van mense se liefde.
Die geel rok laat my daaraan dink: iets lig en lieflik; ‘n fyn, sterk net – geweef en gespan en gelééf teen die wrede monster se grommende gemoedsverduisterings.

Re-laas:  Ja, ek weet, ek het BAIE lanklaas ‘n brief soos dié geskryf. Ander skryfwerk ja, baie! Die boek het goed gevorder tydens die stilte van die Julie skoolvakansie, maar toe die optredes weer vlam vat, … ai, ek multi task nie meer so flink nie. Sedert Augustus was daar ‘n klomp wonderlike optredes waarvoor ek diep dankbaar is: Heidelberg, Hennenman, die gemeente vir Internasionale Studente op Stellenbosch, ‘n groep gelukkige Albertonners in die Bosveld, Vredenburg, Hermanus, Bloemfontein … AMAZING ontmoetings, almal van hulle!
In die maand wat voorlê wag Komatiepoort, ‘n Laeveld-kamp (met Nelspruit, Graskop, Witrivier en Sabie-vroue – en sommer ook ‘n draaitjie in die Wildtuin), ‘n vrouedag op Rietbron (ek wonder hoeveel mense weet sommer vanself waar dit is?) en my jaarlikse kamp met Kuilsrivier-Suid se vroue op Bettiesbaai … En ek gaan my rondomtalie ranonkelbont geel rok dra!

Daai geel rok laat my ook dink aan Fanie Olivier se gedig Membraan. Ek lees dit deesdae dikwels.
membraan

hoe hou die naaldekoker tog sy vlug
met sulke sydun vlerke in die lug?

hoe wieg die rotse reeds dekades teer
op ‘n handbreed vlak gebalanseer?

hoe lyk die swaeltjies se kompas
waarmee die somer elke jaar verkas?

en hoe bly draai die aarde almaardeur
asof god hom nog aan die wêreld steur?

hoekom wil ons dan weet “waartoe … vanwaar”?
dit reën dit skyn dit waai – ons het mekaar

‘n Fyn, sterk, koesterende net.
Weef voort daaraan, geliefdes …, wééf!
Groete,
Annalise

Annalise Wiid
http://www.annalisewiid.co.za

‘n Woord wat met jou wandel …

Junie 26, 2012

Wandel in die Woord. Dis die nuwe benaming vir Bybelstudie wat ‘n mens deesdae in die kerk hoor. Wandel in die Woord. Of met die Woord. Ek vermoed dit verwys na Genesis se Eden gesprekke. In die begin was die Woord en die woord was God … En saans, het die ou Bybel gesê, in die aandwindjie, het dié WoordGod gekom en met die mens in die tuin gewandel. Klink vir my wonderlik ontspannend en gemoedelik, so ‘n tuinstappie saam met die Skepper.

Ek wonder hoe hulle geselse geklink het? Wens ek kon inluister en waarneem! Waaroor sou die mens met God wou praat so in die aandwind? En God met die mens? Dalk oor allerlei skeppingswonders? Seker nie sommer net oor koeitjies en kalfies nie? Of dalk juis daaroor? Maar dan seker in daardie begin-ontwaking nog met groot verwondering en plesier, want niks was toe nog alledaags of gewoon of afgeleef of vervelig nie. Alles was nuut en onontdek en opwindend, selfs die koeitjies en die kalfies!

Ek kan my ook goed voorstel dat daar dikwels in dié aandgesprekke hardop gelag is, van beide kante …

Ek bevind my nou in so ‘n Woord-wandeling. Ek skryf aan ‘n Bybelstudie boek. Sommige dae meld die fokus en inspirasie al aan nog voor die son opkom. Ander dae waai die aandwind al en dan het ek nog nie sewe sinne ordentlik aan mekaar gestring nie, want daar was te veel onderbrekings, of ander dringende werk, of mens-nood wat moes aandag kry. Hoe ook al, woord vir woord kom die boek bymekaar. En tree vir tree vat die wandeling my op die spoor van God se verhouding oor eeue met Sy mense, en dit vat my dieper in myself in, maar ook meer uit myself uit … Dit bind my vaster aan Sy goedheid en genade. Dit maak my losser van onnodige beklemmings. Dit skommel my antwoorde met nuwe vrae en onverwagse insigte. Die taak is gelyktydig intimiderend en GREAT! 🙂

Want “Wandel met die Woord”, is ‘n waaghalsige en ‘n wonderlike uitstap uit ‘n klein, tóé mens-kokon in ‘n groter, grootse God-wêreld in. Ek vind dit maak my gemoed oper; oop, met ‘n soort Genesis-afwagting en -verwondering oor alles wat lok om nog ontdek en geken te word …

Annalise Wiid
http://www.annalisewiid.co.za

kerk, klokke, lewe en lekker!

April 4, 2012

Die Vrou het baie mooi hare. Natuurlik grys. Sagte krulle. ‘n Blink halo. En sy het ‘n breë mond wat maklik lag en spontaan gesels.
Ek ontmoet haar by die dokter – sy sit oorkant my – skuins gegooi op die rusbank met ‘n tydskrif op haar denim skoot. Haar oë is so donkerblou soos haar jeans. Drup in die arm. “Immune boost“, vertel sy, nog voor ek vra.

Die Vrou vertel my van haar handsak wat anderdag onder haar voete uit gesteel is terwyl sy sit en lees het by Exclusive Books in Cavendish. En van haar seun in Berlyn. En van haar werk as gesigspier terapeut. En van haar ander seun, hier naby, wat haar al so baie hartseer besorg het. En van haar dogter wat nog studeer en graag Paternoster toe ry oor ‘n naweek. Sy praat nie ‘n woord oor haar kinders se Pa nie. Die Vrou vertel my ook van haar kolon kanker. Van haar innerlike groei die afgelope jare … Sy gee vir my ‘n piepklein elegante engeltjie, wat sy self maak. Die vlerkies vou toe om ‘n goue hart te vorm – Die Vrou maak seker dat ek dit sien. Sy vertel blinkoog van haar planne om binnekort terug te gaan Duitsland toe – Freiburg omgewing, daar onder, naby die bekoorlike Swartwoud.

Die Vrou sê, toe sy destyds uit Duitsland weg is, het haar vriende laat weet: Dis nou so stil; dis glad nie lekker nie; hier word nie meer ge-party nie; niemand reël meer opwindende goed om saam te doen nie; hier word nie meer gekuier en gelag nie – dis asof die kerk uit die dorp verdwyn het!

Drie dae later lui die woorde nog klokke in my kop: Dis asof die kerk uit die dorp verdwyn het … Die Kerk!!
En die beeld van die vriendelike vrou met die grys stralekrans hare; die broos, dapper vrou met die lewenslus en die kanker en die mooi, maklike-lag mond bly voor my.

Re-laas: Heerlike jaar tot nou, wat optredes betref: Jonkershoek, Sedgefield, Oudtshoorn, Cradock, Magaliesburg en Melville. En ek is baie bly om te kan rapporteer: my geopereerde been word steeds beter!
Die afgelope 2 weke het ek gewerk aan die nuwe Leef-retreat se inhoud – die tema is Toewyding en Troos – 33 folio’s vol! En nou is dit vreeslik om te dink dat ek moet wag tot begin Mei (4 – 6/5) voor ek dit eers kan aanbied! 🙂
Op 7 Mei is ek by NG Kerk Lorraine in PE.
Hierdie week skryf ek ‘n Lig-rubriek, werk aan ‘n bid-belewenis wat ek einde Mei in Quellerina aanbied en berei ook voor vir my eersdaagse besoek aan Upington: 12 – 16 April.
Ek wonder wat doen jy hierdie week – is jy een van die gelukkiges wat vakansie hou of by die KKNK rondhang?

Komende naweek vier ons Paasfees …
Toe ek ‘n kind was, het al wat ‘n kerkklok is vroeg op Paassondag met ‘n groot gejubel gelui. Deesdae hoor ‘n mens dit min. Baie moderne kerke het mos nie meer klokke nie. Tog wens ek jou dít toe:
Dat jy op Paassondag sal wakker word met denkbeeldige jubel-klokke wat sing omdat Jesus lééf!
En dat jy met blydskap sal dink: dit beteken mos ook die kerk is in die dorp! 

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za
https://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

makie saak hoe die wind waai nie!

Januarie 19, 2012

“Sommige dae is daar genade”, sê Oom Muller Botha, “ander dae is daar dubbeld genade.” Ek leer by hom. Om so deur ‘n genade-bril te kyk, vra ‘n harts-ingesteldheid wat, soos ‘n sonneblom, altyd dankbaar en instinktief jou kop na die Lig toe draai. “Jesus Christ, Inner Light, don’t let my darkness speak to me.”
Kort na Nuwejaar gaan kuier ons een oggend by Oom Muller en Tannie Retha. Sit in hulle sonstoepie, waar die dwergdoringboompie groei, en praat en lag en bid – alles in een onafgebroke, spontane, gemaklik-kabbelende stroom … Later ry ons daar weg met handevol steggies om te gaan plant as ‘n vooruitsig op die groei wat die Nuwe Jaar gaan bring. Groei! – tuinlangs, breinlangs, werklangs, lewelangs, lyflangs (!) en sommer oralslangs. En ek kry ook nog ‘n pragtige potplantjie present; een met klokkiesblomme wat gelyktydig pienk en geel en oranje bloos, soos ‘n sononder oor die see. Vir hom gaan ek koester en oppiep tot hy ‘n bos word en kleintjies kry!
Maar die kosbaaste is dit: Ek ry daar weg met ‘n saadjie wat, sommerso terloops tydens die gesprek, in my dieptes geplant is:
Tannie Retha vertel dat sy iewers gelees het van die man wat vir hom ‘n weerhaan op sy dak aangebring het. En onderaan die haan het hy ‘n bordjie vasgekap met hierdie woorde: God is love.
“Hoekom doen jy dit?”, vra sy buurman. “To remind me that God is love”, antwoord hy, “no matter which way the wind blows.”
Ek wil dit onthou as die Suid-oos ruk en die Noord-wes pluk; ook as die Weswind, onvoorspelbaar, ontydig en nukkerig, onverwags uit die Ooste kom; as die wind asemloos en onbehulpsaam, futloos en uitsigloos gaan lê en my seile laat slaphang; of as die warrelwinde my speels en plesierig en roekeloos gelukkig van my voete af dans … Ek wil dit onthou as ek rondomtalie van lekkerte en my verkneukel in die soetigheid van tevredenheid. Ek wil dit ook onthou as die politiek my omkrap en allerlei moddergooi-argumente (selfs kerklangs!) onverkwiklik word. As my geld skraps is en my moed min. As geliefdes ver is en vrees naby.
God is liefde. Ek wil dit voor oë hou. Ek wil dit in my diepste hart vasvasvashou.
En doelbewus soek na Sy soort kreatiewe maniere van liefhê, no matter which way the wind blows !

Want liefde – dis al waaroor dit gaan!

Re-laas:  Tienduisend dankies vir al julle omgee toe ek in November geopereer is! Dit was maar bietjie van ‘n riller. (Jy kan die komiese kant daarvan lees in my rubriek in die huidige uitgawe van LIG – jauarie 2012.) Dit gaan egter nou al baie beter en verbeter steeds … Ek beplan om in hierdie nuwe jaar te probeer om ‘n bietjie matiger te wees met die optree en rondreis en om meer van ‘n balans te probeer kry tussen sing- en skryfwerk. Hoe, weet ek nog nie – daar is altyd enorm baie om te doen!

Ek wonder hoe lyk jou planne en vooruitsigte vir die jaar? Jou wense? En jou moed?  “Jesus Christ, Inner Light …”
Mag jy 2012 tegemoet gaan met ‘n hart-sekerte: No matter which way the wind blows, daar sal genade wees. En waar nodig soms, selfs dubbeld!
En mag jy dit toenemend ook so uitstort op jou medemens …
Dankie vir elke keer wat ek al aan die ontvangkant van jou liefde en genade was!!
Groete,
Annalise Wiid

anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za