Archive for the ‘Op reis deur die lewe’ Category

the reader

Junie 24, 2009
Dis oor ek daai fliek loop kyk het! Die fliek oor die Jongman en die Raaiselvrou. Oor Genaakbaarheid-en-oopheid wat Ontoeganklikheid-en-geheimhouding liefgekry het – en gedink het die verhouding sal vir ewig duur.
Dis oor die ontnugtering …! Want op ‘n dag draai Sinisme dan, koud, haar rug op die jong Dromer en stap eenvoudig net uit.
Heelpad, soos ek terugry van die fliek af, het ek dit bedink: Hoe hy, ten spyte van haar weggaan, nooit ophou om haar lief te hê nie. Selfs toe hy uitvind van haar verlede en haar wegsteekgoed, van haar vrese en haar onvermoë om fyn gevoelens in haarself te verwelkom of selfs net te erken, het hy aangehou, het hy vir haar lief gebly – van ‘n afstand af, op maniere wat hy gedink het, gehoop het, haar sou help, haar sou heel.
En toe, na jare en jare, kom die oomblik van in-die-oë-kyk: Hy, ryper, sterker, minder weerloos, meer wys; sy, nog ouer en gryser, en effens sagter, maar nog nie sag genoeg nie. Die oomblik van waarheid, toe hy vra: Wat het jy deur al hierdie jare geleer?
En sy antwoord: Niks.
Re-laas: As jy my sou vra wat by my gebeur het sedert ek laas geskryf het, sal ek beslis nie kan sê “niks” nie. Mei was mos ietwat van ‘n malligheid met vreeslik baie optredes. Almal van hulle besonders, maar as ek moet uitsonder, die pinkster in Klerksdorp-Oos – want ek was lank genoeg daar om ‘n bietjie meer van die mense in die gemeente te beleef. en die ineenvleg van hulle stories en die Bybelstories het vir my baie sinvol gevoel.
Nou is Junie weer ‘n stil maand. Meesal tuis en aan’t skeppe. Net die naweek van 20 Junie in PE vir ‘n fondsinsameling vir Huis Louisa Meyburgh. En dan vat die vakansie ons weer …
Ek wil darem net ‘n slag dankie sê vir almal wat so gereeld vra hoe dit nou met ons Vergeet-my-nietjie-kind gaan. Dis goed om te kan sê “beter” – hoewel ons almal weet ‘n ontnugtering soos verkragting word nie sommer oornag uit ‘n mens se geheue uitgevee nie. Dit was ook vir my baie hartseer om te hoor dat Ceres se burgemeester skielik aan ‘n hartaanval dood is. Ek het nogal gedink hy’s die kaliber man wat dalk iets baie positief in die dorp kon regkry. Mag ander dan nou die aflosstokkie by hom aanvat en ‘n ervaarbare verskil daar maak …!!
Dis oor ek daai fliek loop kyk het dat ek in die ou voor my se kar vasgery het.
Dis oor die ontnugtering.
Dit maak ‘n mens, soos die liefde, soms ‘n bietjie blind.
Kyk mooi …  🙂
Advertisements

Groen!

Mei 7, 2009

Hier’s ‘n ouerige tannie in ons dorp wat ‘n grys Granada ry. ‘n 3 liter. Eens op ‘n tyd was hy seker silwer, maar die son en seisoene het al sy blinkgeit afgevreet en nou’s hy net vaal. Sy ry hom eintlik baie stemmig: vlekkieshande hoog op die stuurwiel, mooi langs mekaar; kop effens vorentoe, soos sy konsentreer. Dis net as sy wegtrek by ‘n groen lig dat jy skrik. Dan’s sy pyl-uit-‘n-boog! So blitsig – asof die kar se krag ongetem onder haar gaan uit hol. Maar teen die tyd dat die ander karre haar weer inhaal, het sy die wilde perd onder bedwang en is sy weer veilig op cruising speed. As sy dan by die volgende robot stop, wieg hy liggies onder haar tot bedaring.
 
Sedert ek laas geskryf het, het onse Zuma ook die groen lig gekry, en trek hy ook nou met ‘n spoed weg … Waarnatoe sal ons nog moet sien … Mag die genade met hom en met ons almal wees! En mag hy en al sy nuutaangestelde besems tog skoon en behoorlik vee!
 
Terloops, hoekom is dit so dat die ouens wat daai “how’s my driving?” stickers agter op hulle trokke het dikwels van die vrotste bestuurders is? En hoekom moet ‘n mens so dikwels die ou voor in die tou eers wakker toet as die robot al laaaaankal groen is? Ek sit netnou in my kar en dink:

Of dit nou ‘n kar of ‘n land, ‘n loopbaan of ‘n kind is, werklike goeie bestuur kom nie sommer van stort nie!
 
Ek het al April se vakansiedae ten volle benut en is nou oorgehaal vir Mei se optredes. So lyk hulle:
08 – 10  –  Franshhoek,  vrouediens kamp – NUWE TEMA: kyk mooi!
12   –  Ceres,  vroue oggend
15 – 17   –  Hermanus,  Fantastiese Familie kamp
21 –  Vredelust,  hemelvaart
23 –  Hoërskool D F Malan
24 – 31   –  Klerksdorp,  pinkster
30 –  Brakpan,  vroue oggend
 
In hierdie herfsmaand vier ons Hemelvaart. Ook ‘n lig wat van rooi na groen oorgeskakel het.  🙂

Maar ons het eintlik geen idee wat dit werklik behels nie, nie vir Jesus nie, ook nie vir onsself nie … Want hoe kan ‘n aardemens nou régtig van die hemel weet? Ons kan net droom van versperringlose verhoudings … En glo in ‘n Jesus-wat-is-soos-God.
 
Geniet Mei, al roes die wingerde bloedbloedrooi. En as die Lig sê: groen – laat waai!!

Dis tyd

April 14, 2009
Dis tyd. Ver, ver noord van hier begin sing songeel affodille oor die oopgaan van die lente. Vir ons het die herfs gekom, met sy swetterjoel vakansiedae (en toe gooi hulle op die koop toe nog sommer ‘n stemdag ook in!) en met sy soelte en sy parmantige bloedrooibessies. Vir my is herfs Boerneeftyd. Sedert ek en Helena Conradie ‘n paar jaar gelede met Makie Mooigoed Staan, ‘n program van sy gedigte, KKNK toe is, breek ‘n herfs nooit meer aan nie of ek onthou sy tong-innie-kies bessiewoorde:

soms word ek sat van dit en dat
dan sêk virrie mensdom sountoe
ek steek ‘n pouveer op my hoed
in my knoopsgat bessies rooi soos bloed
en sê gee pad staan sountoe
innie bonnel raak ‘n mens benoud … (o ja, dis hoeka nou weer KKNK-tyd ook!)
daarom stryk ek maar eenkanttoe
met ‘n groenbloupouveer op my hoed
en ‘n trossie bessies rooi soos bloed
en sê staan julle maar sountoe

Ek stryk ook hierdie maand ‘n bietjie eenkant toe – weg uit die bondels en bedrywighede. Maak my toe in my huisspelonk – nie van satgeit nie – om te skryf en te dink en nuwe idees uit te broei, sodat ek kan reg wees as Mei aanklop, want dan gaan die vere waai! Net sodat ek nie heeltemal in ‘n kluisenaar verander nie, sing ek Donderdagaand, 16/4, by Heidekoppie se gemeente in Brackenfell. Verder sê ek: gee pad, staan sountoe … 🙂

Dis tyd vir sagword, rypword, in weerpatrone en gemoed. Dit is ook paastyd. Skoene-uit, heilige-grond-tyd. In my hart herdenk ek ‘n pase in Jerusalem. Sonder bessiebloed. Met net, geluidloos, die geboë gebede van oer-olywe in Getsemané. Toe God gesê het: Dis nou tyd.

Tyd – nie om vir die mensdom te sê “staan sountoe” nie, maar juis om vir hulle te sê: Staan nader … Proe die wyn, drink die hoop … éét …

Mag jy in die dae wat voorlê diep getroos word deur God se onvoorwaardelike naderstaan aan ons – weereens.

Re-laas

Maart 18, 2009

i must down to the seas again, to the lonely sea and the sky … and a grey mist on the sea’s face, and grey dawn breaking. i must down to the seas again, for the call of the running tide is a wild call and clear call that may not be denied.   sea fever – j. mansfield
 

Hierdie woorde lees ek in vandag se Burger, by die doodsberigte. Ja, so morbied voel ek vandag dat ek dáár gaan troos soek! En is dit nie mooi nie, al is dit so sad?  Toemaar môre sal ek weer beter wees. Voel sommer net vandag so ‘n bietjie toe onder die grys mis  🙂  So gaan dit mos maar as ‘n mens op reis is deur die lewe …
 

Re-laas: Ag, ek het so lanklaas geskryf! Was intussen in Durbanville en op Villiersdorp en op Stellenbosch se Woordfees vir ‘n heerlike program oor my Skewe Snytjies Brood-boek. Op Springbok ook – met ‘n Geur van Christus kamp. O, daai wêreld se klipkoppe is darem asemrowend mooi – veral so in die laatmiddag- of vroeoggendlig! Komende naweek se kamp is onverwags gister gekanselleer – dis maar die tweede keer in al my optree-jare wat dit gebeur. Sondag, 29 Maart, doen ek ‘n paasdiens op Montagu en dan is die eerste kwartaal sowaar alweer verby!
 

Ek begin ook binnekort ‘n blog! Hoe het dit gebeur? Ek wat so gekant is teen al wat kunsmatig is; ek wat ‘n weersin het in virtuele namaaksels van noodsaaklike werklikhede; wat wil naar word by die blote gedagte aan skyn-intimiteit en flimsy verhoudings – ek begin sowaar ‘n blog! ‘n Kunsmatige kletskamer. waar ek met mense sal praat wat ek nie in die oë kyk nie. Waar ek bande sal smee wat nooit in die regte lewe getoets of gestretch gaan word nie. Waar ek …ja, waar ek wat sal doen? Wat wil doen? Net nog ‘n kubergat volstop met ‘n verfoeilike triviale getjommel? Of dalk vir iemand die son laat breek deur die grys mis op die see se gesig?
 

Is ek super idealisties om te hoop dat dit tog ‘n plek van hartkontak met my medemens sal wees? ‘n Soort van koek-en-koffie kuberkuierplek waar dié wat lees kan voel hulle ontspan en herlaai en besin en skep moed?
 

Maar die blog-gesprek sal eensydig moet wees, want daar is eenvoudig nie genoeg tyd in ‘n dag om hiervan ‘n wedersydse geselsforum te maak nie. Met hoeveel mense kan ‘n enkeling daagliks heen-en-weer praat? Dit sal dus ‘n uitdeelplek wees. ‘n Aangeeplek van wat my geraak of ontroer of ontstel het; wat my lewe kleur en deurmekaarkarring; wat persoonlik en universeel en goddelik en betekenisvol is in die gang van my dae. En hopelik verryk dit my medepelgrims op reis deur die lewe …
 

As die grysmis dalk vandag oor jou ook hang, mag hy verdwyn voor ‘n sterker son. En, as jy lag-lag in die sonskyn leef, mag jy dan help om ‘n ander se grysgeit weg te toor!

Liefdegroete,
Annalise