Archive for the ‘1’ Category

vuurspoeg

April 23, 2010

Eyjafjallajökull. ‘n Mens spreek dit glo so uit: [ˈeiːjafjatlajœːkʏtl̥], Afhangende van jou stemtoon kan dit klink soos vreeslik vloek! Letterlik vertaal beteken dit: Eilandberggletser. Of so iets. Genadetog! Dat so ‘n tongknoper so onverwags soveel vuur kan spoeg en daarmee die weste se lugverkeer vir dae lank feitlik tot stilstand bring en die ganse webwêreld laat sidder onder die blogs, slaan my stom. En dan kom dié vuur nog onder die oppervlak koue van soveel ys uit! Tonne der miljoene tonne onskuldige wit ys – en ónder dit so ‘n verwoede vulkaan! Wys jou net weer: Moet niks en niemand, selfs nie eens ‘n eilandberg, op sy baadjie takseer nie.

Die foto’s is skouspelagtig. Gaan google dit ‘n bietjie as jy kan. Hierdie meneer het ‘n krater van 3 – 4 kilometer in deursnit en hy bars, volgens Wikipedia, “relatief gereeld” uit: in 920, 1612 en weer van 1821 tot 1823. En nou weer, in Maart en April 2010. Ek vind dit nogal onrusbarend: die onvoorspelbaarheid van so ‘n ding wat vir wie weet hoe lank onder ‘n bedrieglik stil oppervlak lê en broei en borrel en wat dan, sommer op ‘n dag net, briesend boontoe bars! En, na die vuurwerke, bly die as vir dae, weke nog, verlammend in die lug hang. ‘n Nederlander blog laasweek: Het vliegverkeer in Nederland ligt nog steeds plat. Schiphol is zo goed als uitgestorven.

Re-laas: Plat en uitgestorven? Allermins! Nie ek nie. Ek was in Worcester, Rondebosch, Bela-Bela, Wesselbron en Bloemfontein. Ek het ‘n photo shoot gehad en radio- en tydskrifonderhoude vir die komende CD, NOG. Nog net 2 weke, dan’s dit hier … Ek countdown nou al amper net so naarstiglik soos die sokker ouens: “Feel it, it is here!” 🙂
Wat lê voor?
1 – 2 Mei: Sasolburg
7 – 9 Mei: Ladybrand – retreat saam met Leef-tydskrif
13 Mei: Bredasdorp Christusfees
16-23 Mei: Pinkster, Malmesbury – Swartland-Noord gemeente
28-30 Mei: Jeffreysbaai vrouekamp
En, voor ons dan ons oë uitvee, skop die SOKKER met vuurwerke en triljoene vuvuzela’s af!

Van groot geraas en kraters gepraat: Dis nie net Eyjafjallajökull se uitbarstings wat ons onkant vang en lamlê met die klomp gemors wat dit so ongevraag op ons laat neerreën nie. Meeste uitbarstings het daai neiging. Malema s’n. Die opvlieënde man met die padwoede s’n. Die vlamvatvrou wat so skielik op haar kind skree s’n. Joune, Myne. Tog jammer. Want die gevolglike besoedeling is onvermydelik. Die wind waai dit nie sommer tjoef weg en alles is weer vergete nie.
Dis die ding van vuurspoeg: Wie moet die skade beheer en die gemors, vir hoe lank daarna nog, weer skoonmaak???

Leef veilig. En in vrede. Groete,

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za
https://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

Advertisements

tussen die lyne

Maart 11, 2010

‘n Onderwyser het eendag vir haar leerders gevra om al die kinders in die klas se name op twee velle papier te skryf, met ‘n oop spasie tussen elke naam. Toe daag sy hulle uit om te dink aan die mooiste ding wat hulle oor elke mede-leerder kan sê en om dit in die spasies tussen die lyne neer te skryf …

Dié gedagte (uit een van die menigte om-die-wêreld-gesirkuleerde eposse wat in my inbox beland) vang gister nie net my oog nie, maar my hart. En dit los my nie weer nie. Ek bly dink oor die manier waarop mense hulle waardering vir mekaar uitspreek. Soms so beskimmeld en beskroomd, so “tussen die lyne” dat jy dit moet aflei uit lyftaal of ‘n vlugtige kyk-in-die-oë. Soms gekodeer in ‘n klein, byna onbeduidende daadjie of ‘n terloopsgeplukte blommetjie. Klein tekens van ek-sien-jou-raak en jy’s-vir-my-belangrik – dikwels bietjie verdoesel en ingeprop in die skrapse spasies tussen verhoudingsverdringende alledaagse dinge.

Maar soms glad nie weggesteek nie, eerder openlik en trots. Spontaan. Dapper. Uitgelate. Soos gister by die gradeplegtigheid: Toe een outjie sy graad kry, spring sy ma in haar deftige pers uitrusting uit haar stoel uit op en roep met ’n luide stem sodat almal se koppe na haar toe draai: “That’s my boy!!” ’n Ruk later kry ’n ouer vrou haar graad en haar dogter roep toe kliphard sodat almal regop sit: “Mooi so, Mamma!!” en haar man neem foto’s …
Vergeet van tussen die lyne. Bold en uitgeblaker – in hoofletters!
Hoe nodig het ons dit nie om mekaar so te onderskryf nie – en om so bevestig en bekragtig te word!

Re-laas:  Ek het middel Januarie laas geskryf. Skande! Was sedertdien deur ‘n stuk Karoo, sowel as deur Brits, Knysna, Oos-London, Bloemfontein en PE. Sien, daar was nie kans vir skryf nie. 🙂
Môreaand (12/03) sing ek by die AGS in Worcester en die 21ste se oggend in Rondebosch se NG Kerk. En op 4 April doen ek vir die ATKV ‘n Paasprogram by Klein Kariba.

Tussendeur is ek hard aan die werk aan die finale afrondings van my nuwe, saamstel CD getitel:

Die meester is klaar, die omslag is feitlik klaar. Ons is nou in die pylvak van reproduksie en markgereed maak …
Ek mik om in Mei vry te stel! Sal julle op hoogte hou …

Ek het van haar gedroom laasnag. Soos sy in my kindertyd was. Hoe sy oor my buk, toe ek nog te klein was om vir alles wat ek wou sê en doen die regte woorde te kry – met vraagtekens in die oë: “Mê verstaan nie mooi hoe jy nou wil maak nie?” Sy’t haarself so ‘n slag in die derde persoon op die naam genoem, nooit dan van “ek” gepraat nie. ‘n Droom kan so skokkend helder wees! Ek het haar stem gehoor, die Bolandse aksent, so duidelik; die tuit van haar mond gesien – nét soos dit was! En só verlang!!

Toe is ek weer van vooraf bly dat ek, op ons laaste dag saam, tussen die deurleefde lyne van al my lewensjare (want sy was daar vandat ek gebore is) vir haar kon sê, openlik, waarderend en bevestigend kon sê: Mê, ek is lief vir jou. Jy’s ‘n amazing vrou. Dankiedankiedankie vir alles!

Terloops, as iemand lanklaas (of dalk nog nooit) vir jou gesê het JY’S SPESIAAL, loop kyk in die spieël en doen dit vir jouself. Want JY IS!

sien jou …

Januarie 15, 2010

Dit is kort voor middrnag 2010. Ons wag die twaalf klokslae wat die nuwe jaar gaan inlui met sjampanje in die hand af. Praat oor die jaar wat agter ons rug lê …

Verbeel jou … 350 dae van nou af … Wat sal ons sê? Sal ons nog opgewonde praat oor die sokker en oor hoe goed dit was? Sal ons dit betreur dat dit toe after all nie so great was soos almal vooraf gehoop het nie? Of sal die sokker teen dan al so vaag geword het in ons geheue dat ons hoegenaamd niks meer daaroor sê nie – eerder oor ander, meer lewensindringende goed praat: soos die mense wat ons deur die jaar gesien het, en die impak wat ons ontmoetings met mekaar op ons gehad het …

Maandag, die pasafgelope ene, was ek Johannesburg toe – net vir die dag – om hulle te sien: David en Amanda, my ou Bloemfontein-en-Melville pelle wat nou al wie weet hoe lank in Australië woon. Ons het mekaar sewe jaar laas te siene gekry. Was vir sewe jaar lank aangewese op facebook en fone! Hulle het vir die familie kom kuier oor Kersfees en het Maandagaand weer teruggevlieg. Toe vat ek gou Maandagoggend my kans vir ‘n long overdue kuiertjie.

David is ‘n kwadrupleeg. Om sy lyf te spaar vir die lang vlug tussen Johannesburg en Perth, moes hy heel Maandag lê. Toe kuier ons maar by hom in die kamer – op stoele of skuins gegooi langs hom op die kooi: met laptops vol foto’s, borde vol vars stronkmielies en boerewors, bekers vol rooibos … terwyl ons praat oor ons plekke, ons mense en ons harte, ons lewensloop. Later lê ons, ingeryg soos sardientjies, weerskante van David op die bed en neem klompe lawwe foto’s – want wanneer sien ons mekaar tog nou weer?

In Desember, die pasafgelope ene, het ons spesiaal George toe gery – ook net vir die dag – om hom te sien: klein Ockert, of Spikkel, soos hy sedert sy kleinstekleinbegin reeds in ons gedagtes naam gekry het. Hy is op Nuwejaar gebore. Die oggend na die Blue Moon. Hoe dan nou anders – ons móés eenvoudig net gaan kyk hoe hy lyk en gaan “aangename kennis” sê!

En toe stop ons op pad terug Kaap toe by Rheebok – om ‘n man te sien wat 16 jaar gelede, toe alles om ons in ‘n oogwink ineengetuimel het, Jesus-met-‘n-vel-om was vir my familie. En ons sit met koffie en oorskiet Kerskoek en met die see in ons hare en praat – so eerlik soos die geskropte houttafel onder ons elmboë – oor God en oor glo; oor swaarkry en oor sin …

Ontmoetings. Daar is darem maar net iets aan so sáámwees wat al die tegnologiese wonders van Skype en Facebook by verre oortref – die ware in-die-oë-kyk en mekaar síén, aanraak, tee uit dieselfde pot skink, lag op dieselfde foto – wat ‘n goddelike, lewensvormende voorreg is!

Relaas: 2010 lê en loer vir my vol dinge en bedrywighede … lekker optredes, lekker skryfwerk, en (ekstra lekker) die nuwe hutspot-saamstel CD … (meer daaroor in ‘n volgende brief).

Wat my program betref, lyk die volgende paar weke so:

25 Januarie: Beaufort-Wes

26 Januarie: Victoria-Wes

27 Januarie: Loxton

28 Januarie: Prins Albert

29 Januarie: Fraserburg – almal van hulle aandbyeenkomste met die tema: U DEK VIR MY ‘N TAFEL.

Dan 3 weke vakansie in Knysna, met werk oor die naweke:

13 Februarie: Brits

21 Februarie: Knysna

26 – 28 Februarie: Oos-London

Ontmoetings. Sien-tye. Die dae rondom die pasafgelope jaarwisseling het baie meer ontmoetings as net bogenoemde 3 gehad. Party vlugtig. Ander onvergeetlik. Sommige beide. Ek het my ook weer aan Christus verkyk, wat vra: “Kan jy insien dat my evangelie nie veronderstel is om mense in te perk nie; dat dit goeie, bevrydende nuus is; en dat Ek by julle kom inhaak en vir elkeen sê: Ek kom saam met jou 2010 in …”

Mag dit dan juis die ontmoetings wees wat jy in 2010 gaan hê – met God, mens, dier en natuur – wat sal maak dat jy, wanneer jy aan die einde van die jaar, kort voor twaalf, op 2011 se drumpel staan, met die terugkykslag sal kan sê: Dit was voorwaar ‘n geseënde en voorspoedige jaar!

Sien jou …

Annalise

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za

kersfees in jou skoot

November 25, 2009

Ek draai jou toe in doeke
Ek sus jou lyfie in my arms
Ek soen jou sagte voetjies
En hoor hoe die hemel sing …

Woorde van ‘n wiegelied wat enige ma, oorstelp van blydskap oor die voorreg van haar eie babatjie, sou kon sing. Intieme woorde. Ek sing dit voor ‘n gehoor van honderde. Die atmosfeer is nie naastenby so intiem soos ‘n babakamer of ‘n ma se bed nie. En tog: In die tweede ry van voor sit ‘n vrou met ‘n slapende baba in haar arms – rustig sussend. Ek kyk op terwyl ek die lied sing, vas in haar emosieswanger oë. Hulle is so vol teerheid; so oorloopvol liefde vir die kindjie teen haar bors. Ek kry my oë nie van dié Moeder-en-Kind beeld weggeskeur nie – bly na hulle kyk terwyl ek verder sing. Die res van die gehoor word die agtergrond vir die lieflike klein toneel, soos die herders en engele van destyds:
Ek voed jou tot jy vol is
Ek was jou en ek hou jou warm
Ek lê jou in die krip neer
En Jy roer saggies in jou slaap

Die gehoor se oë volg myne; kom ook tot rus op die baba se slaap gesiggie. Hy steun tevrede. Hy is sagswart. Sy ma, baie blank. Haar grenslose liefde het vir hom plek gemaak, herberg gegee, toe die lewe, vandat hy sy ogies oopgemaak het, telkens deure voor hom toegeklap het.
Ek wonder oor die prys wat sy hiervoor betaal. Oor die swaard wat dit dalk vorentoe deur haar siel sal laat sny … Die voorwete daarvan lê reeds in haar oë. Maar dit word oorskadu deur ‘n enorme vrede en ‘n oermoeder, instinktiewe, kleintjie-koesterende vreugde.

Ek glimlag verwonderd. Die moderne Maria voor my eggo die Bybelse Maria in my lied se laaste woorde:
‘n Ster het skielik in my hart geblom
Die oomblik toe ek hoor dat Jy gaan kom!

Ek gee graag hierdie kers-ervaring vir jou aan. Van alles, het dít my hierdie jaar die meeste ontroer. Ek is nou amper klaar met optredes vir 2009. Hierdie week nog een in Warrenton en een in Pretoria. En volgende week nog ‘n kersafsluiting vir Huis Marie Louw aftree oord hier in Somerset-Wes en dan, 6 Desember, die kersdiens in Williston.

Met gróót waardering vir jou meelewing deur die jaar en beste seënwense vir die kersgety. Mag jy Immanuel as werklik by jou ervaar!
Annalise

herkou

November 2, 2009

Eers slaap ek gewoonlik ‘n lekker stukkie. My kop sommer skeef gegooi teen die blou British Airways bekleedsel terwyl die nimmereindigende blou van die lug stadig teen ongeveer 800km per uur oor ons verbyskuif. As ek dan wakker word, vra ek ‘n gin en Appletizer, met ekstra suurlemoen skyfies. Daaraan teug ek langsaam terwyl ek tussendeur aan Café Cloud se kossies knibbel. Woollies in die wolke – dis wat BA ‘n mens deesdae bied. Te veel turbulensie, die somer se vlieg-vloek, maak soms dat ons sonder koffie moet klaarkom.

Nou die dag sit ek mos langs ‘n ou wat vir die eerste keer vlieg. Toe die skinkbordjie kos kom, slurp hy dit smaaklik op – nee, hy stofsuier dit – daar bly nie ‘n krummeltjie oor nie. En toe sak hy behaaglik agteroor en sê: Now that was an insult to my stomach! 🙂

As die kajuit daarna rustig raak, begin ek herleef. Herkou. Dis elke sondag se ding. Op die terugvlug Kaap toe, flits al die naweek se onthoubeelde oor die filmdoek van my brein: Opgewonde gesigte oor bekende Bybelwoorde wat Gees-woorde geword het, wat in plaas van net swart letters op wit papier, help-woorde, hart-woorde, heelmaak-woorde geword het. Traan-oë wanneer die Bybelverhale God se genadige gesig na vore bring – ons God wat verstaan, medelye het en troos. Die hartstilte wat kom uit singende vroue by die sagte lig van kerse en in die teenwoordigheid van die Lig van die wêreld. Daaraan herkou ek Sondagmiddae as ‘n murgmoeg soos lood in my knieë kom lê. En in my kop.

Re-laas: Ja, ja, ja, ek weet ek het hierdie skryfding erg lanklaas gedoen en party van julle het al erg afgeskeep begin voel. Ek vra diep en innig om verskoning! Maar, ai, die leisels glip net soms so ‘n bietjie uit my hand uit 😦 By jou ook?

En so het die derde kwartaal en die ou kort vakansietjie gekom en gegaan. Sedertdien was ek in Molteno, Worcester, Porterville, Kameeldrift, Krugersdorp en Bellville. Van al die afgelope optredes was die retreat wat ek saam met Leef aangebied het ‘n groot hoogtepunt. Ons het ‘n nuwe tema (kom nader aan God se hart) met ‘n baie relevante inhoud (verhoudings – die goeies en die slegtes) aangepak en beslis groot goud raakgeboor! Die reaksie van almal wat daar was was byna oorweldigend goed. Daar is reeds 3 naweke in 2010 opsygesit sodat ons dit kan herhaal in Gauteng, die Kaap en die Vrystaat!

Eintlik staan ek nou al met my een voet in volgende jaar, met al die besprekings wat nou instroom. Dié dat dit so voel of my ander voet onder my uitgly met hierdie jaar wat nou so vinnig afdraand wikkel! Die komende twee naweke is ek in Pretoria en die week van die 15de bly ek sommer daar om gou twee songs op te neem vir die SAAMSTEL CD (dis nou my woord vir ‘n compilation) wat ek volgende jaar wil vrystel. Sommer so ‘n lekker hoogtepunt-versameling uit al my vorige produksies (kan jy glo daar was 13 van hulle in die afgelope 16 jaar!). Daarna gaan ek nog ‘n draai maak in Warrenton en Williston en hier in Somerset-Wes ‘n kersafsluiting by ‘n aftree-oord doen. En dan is dit Desember en afskakeltyd. Lekkerlekkerlekker!!!

Tot dan, sterkte vir alles. Maak maar soms jou oë vir ‘n rukkie toe, stofsuier deur ‘n bordjie kos, en put, al herkouende, krag uit die goeie dinge wat jou pad kruis …
Liefdegroete,

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za

onstuitbare lente

Augustus 13, 2009

Vandag slaan die winter sy ekstra skerp kloue in die Kaap in: regte sneeuweer – bietjiebietjie ysreën, lae wolke, snerpwindjie. Verwarmers. Serpe. Kaggels. Kniekombersies. Sop. Kerrie. Snoesgoed. Die jasmyn wat laasweek so uitbundig die lente se koms verkondig het, lê nou soos nat konfetti deur die tuin gestrooi. Ai, die lang wag tussen winter en lente …

Ek lees onlangs in Die Burger (22.06.09) ‘n resensie oor The Winter Vault – ‘n boek deur Anne Michaels. Sy het ook Fugitive Pieces geskryf – waarvan die fynste denkbare fliek gemaak is oor twee mense se heelword by mekaar.

“Die titel van die roman”, skryf die resensent, Johan Anker, “verwys na ‘n gebou in die begraafplaas wat in die winter as bergplek vir lyke dien totdat die winterys smelt en die grond sag genoeg word om weer met begrafnisse voort te gaan.”

Dit klink makaber. Maar in die boek word dit ‘n beeld van die lang tye waarin ‘n mens jou eie verliese verwerk totdat jy ook weer gereed is om die dooies te begrawe en met die lewe voort te gaan.

Wat ‘n ontroerend akurate beeld! Toe ek dit lees, dink ek aan ‘n vriendin wat nou met ‘n groot hartseer sit en onmenslik baie om te vergewe en ek skryf vir haar: “Ek sien ek jou omring deur die lyke van ontnugtering, leuens, verdoeseling, droomskerwe, verlore tyd, teleurgestelde verwagtings en oninhaalbaarheid. Ek sien hoe dapper jy daaruit probeer opstaan – jou kop gelig, ‘n ek-sal-my-nie-laat-onder-kry-nie kyk in jou oë …

En ek huil oor jou verdriet.

Oor die verskrikking van verlies.

Oor die rou, rou wonde wat dit slaan.

Ek wat nog altyd geglo het as jy werklik lief gehad het (en liefgehê was) was dit nooit verniet nie, sit vanaand sonder woorde.

Al die seer en al die stukkend van mense en kinders wil U sagmaak, wil U heelmaak deur ons te gebruik …

So sing een van ons mees relevante kerkliedere.  (Liriek  Ben du Toit)

Maar vanaand vind ek in myself geen moontlikheid om dit vir jou sagter of heler te maak nie. Ek kan net my trane huil oor jou wond. En wag … en hoop dat die sout daarin ontsmettend sal wees …”

Re-laas:   Ek het ‘n draai gemaak in die Vrystaat, die Bosveld en in Namakwaland. Drie verskillende variasies van besonder bibberende winter beleef, maar in Namakwaland ook gesien hoe die lente met ‘n singende oranje kopdoek haar lyf begin regkry vir ‘n rieldans.

En ek beter my vere ook regskud. Komende Vrydag vat ek die vliegtuig Upington toe vir ‘n Geur van Christus-kamp met Augrabies se vroue (14 – 16/08). Die naweek daarna (22 en 23/08) is ek in Clocolan – die Saterdagoggend vir ‘n sop-en-broodjie kuier-en-sing en die Sondagoggend vir die erediens. En die Sondagaand begin ek met ‘n mini-reeks met Hennenman se 3 NG gemeentes (23 – 25/08) . Dan het ek genadiglik weer ‘n paar dae se asemskep by die huis voor ek George toe vlieg vir ‘n optrede by Eden Gemeente (02/09) en daarna Gauteng toe vlieg vir ‘n optrede in Randburg (06/09). Die naweek daarna is ek in Douglas (12/09) en in Kimberley (Bakenskop 13/09) en Sondag, 20/09, doen ek die oggenddiens in Onrus.

Teen daai tyd het die seisoen al gedraai en dra ons ligter klere!

O, die lang uitmergelende wag vir die einde van die winter. Ons is daar almal op een of ander manier vertroud mee. Ek bid vir jou – vir ‘n veilige winterwegsteekplek. Waar die seergoed sonder dreiging kan lê en wag tot jy gereed is vir finaal en werklik inspit en aanstap. Met die lente, onstuitbaar, weer in jou ledemate en in jou gemoed.

Baie groete

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za

inspirasie

Julie 17, 2009

Ek hou daarvan om teen skemer te gaan stap en te dink oor die dag wat agter my rug lê. Sonsaktyd, wanneer die berge pienk word en die eende huis toe kom en kinders nog vir oulaas in die laaste lig ‘n bietjie buite speel. Dit laat my kalm en getroos voel.

Vanoggend het ek ‘n afspraak met Erena gehad. Ons het gesels oor haar tweede boek wat sy aan’t skryf is. ‘n Boek oor God se voetspore deur haar dorp. En oor haar beplande trip Amerika toe – met ‘n gros van haar dorp se mense – ‘n kaptein in die polisie, ‘n radio omroeper, ‘n oud-straatkind, 4 jeugwerkers in skole, ‘n gewese drug lord, 2 ma’s, ‘n sakevrou, ‘n jeugleraar, en nog ander … Sy wil hulle saamneem na ‘n konferensie oor geestelike impak en rypheid, want sy sal graag eendag iets soortgelyk in haar eie dorp wil aanbied, maar daarvoor het sy mense nodig wat sal verstaan waaroor dit gaan; mense wat dit self eerstehands beleef het – sodat hulle ander kan inspireer … Vanoggend het ons dus gepraat oor fondse en drome en durf en onverdunde geloof.

Ek ken Erena van de Venter al vir 25 jaar of meer – sedert ons destyds saam, op Worcester, murals geverf het met die gangsters. Sy was nog altyd so. So besorg oor haar gemeenskap. So ingestel daarop om mense hoop te gee, en geleenthede, ‘n nuwe begin. Sy was nog altyd vir my ‘n enorme inspirasie!

Re-laas: Ek het geskryf en ge-organize en gedink en ge-beplan vir ‘n vale. Nou is ek reg vir die berg optredes wat voorlê … Of so reg soos wat menslik moontlik is. Niks meer wat ek nog kan doen nie. Veel meer wat God nog kan doen. En daarop bargain ek!! 🙂

Komende naweek (18 & 19/07) is ek by die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein. Saterdagmiddag, 14:00 saam met Matthys Maree, met ‘n show vol songs en stories oor die liefde en die lewe. Kaartjies by Computicket: onder ANNALISE WIID, SKEWE SNYTJIES BROOD. Sondagoggend doen ons 2 eredienste by die klipkerk (09:30 en 11:00) voor ek terugvlieg huis toe.
Die naweekdaarna (24-26/07) kamp ek iewers buite Pretoria met ‘n groep van Lux Mundi gemeente en die Sondagaand doen ek die erediens in Melville se NG kerk. En die naweek daarna (01/08) sing ek in Loeriesfontein!

Ek skryf hierdie ou briefie nou al vir die 6de jaar. Party van julle is al 6 jaar lank aan die ontvangkant. Ander het maar onlangs eers op my adreslys of op my blog beland. Wat ‘n voorreg om die lewe op so ‘n manier met mekaar te deel. DANKIE vir julle almal se belangstelling, ondersteuning en aanmoediging – JULLE IS VIR MY ‘N INSPIRASIE!! Regtig. Julle maak my hart sterk soos die pienk berge teen sonsak!

Sedert vanoggend is Jesaja 50:4 uit die NIV weer vars in my gedagtes:
The Sovereign Lord has given me an instructed tongue, to know the word that sustains the weary.
Mag Hy dit in ons bly doen – dat ons almal, op een of ander manier, lewenstroos en vrede kan bring in ons moeë gemeenskappe …

Met seënbede,
Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za