Archive for Oktober, 2012

‘n fyn net

Oktober 3, 2012

Ek het vir my ‘n vrolike geelbont rok gekoop. Pure freesia-ruiker en ranonkel tuin in die lente! Uitgelate. Dalk selfs ‘n tikkie uitspattig as jy my jare en postuur in gedagte hou. So what! Die rok is ‘n onbevange lag; ‘n guitige flirtasie; ‘n uitstrek-arms rondomtalie. Die rok is ook ‘n borswering. ‘n Hart-harnas van sagte, kleurvolle lap.
Jy sal vra: Hoekom? Hoe?
En ek sal sê: My blomtuin rok versag die aanhoudende gegrom van die soveelste renoster karkas, die soveelste korrupsie klag, die soveelste stuk snydende kerk kritiek, die soveelste gekke moord, inbraak, opstand, vernietigde droom, vermorselde mens …
Help dit?, sal jy vra.

In sy boek The Dun Cow, skryf Walter Wangerin van die wrede monster wat onder die aarde bly, wat gedurig dreig om uit te breek uit sy donker kelder, gedurig wil bars deur die aardkors om mens en dier te verslind. En al, ál wat hom teëhou, is ‘n fyn net wat oor die aarde span: ‘n delikate, maar ondeurdringbare web, geweef van mense se liefde.
Die geel rok laat my daaraan dink: iets lig en lieflik; ‘n fyn, sterk net – geweef en gespan en gelééf teen die wrede monster se grommende gemoedsverduisterings.

Re-laas:  Ja, ek weet, ek het BAIE lanklaas ‘n brief soos dié geskryf. Ander skryfwerk ja, baie! Die boek het goed gevorder tydens die stilte van die Julie skoolvakansie, maar toe die optredes weer vlam vat, … ai, ek multi task nie meer so flink nie. Sedert Augustus was daar ‘n klomp wonderlike optredes waarvoor ek diep dankbaar is: Heidelberg, Hennenman, die gemeente vir Internasionale Studente op Stellenbosch, ‘n groep gelukkige Albertonners in die Bosveld, Vredenburg, Hermanus, Bloemfontein … AMAZING ontmoetings, almal van hulle!
In die maand wat voorlê wag Komatiepoort, ‘n Laeveld-kamp (met Nelspruit, Graskop, Witrivier en Sabie-vroue – en sommer ook ‘n draaitjie in die Wildtuin), ‘n vrouedag op Rietbron (ek wonder hoeveel mense weet sommer vanself waar dit is?) en my jaarlikse kamp met Kuilsrivier-Suid se vroue op Bettiesbaai … En ek gaan my rondomtalie ranonkelbont geel rok dra!

Daai geel rok laat my ook dink aan Fanie Olivier se gedig Membraan. Ek lees dit deesdae dikwels.
membraan

hoe hou die naaldekoker tog sy vlug
met sulke sydun vlerke in die lug?

hoe wieg die rotse reeds dekades teer
op ‘n handbreed vlak gebalanseer?

hoe lyk die swaeltjies se kompas
waarmee die somer elke jaar verkas?

en hoe bly draai die aarde almaardeur
asof god hom nog aan die wêreld steur?

hoekom wil ons dan weet “waartoe … vanwaar”?
dit reën dit skyn dit waai – ons het mekaar

‘n Fyn, sterk, koesterende net.
Weef voort daaraan, geliefdes …, wééf!
Groete,
Annalise

Annalise Wiid
http://www.annalisewiid.co.za

Advertisements