Archive for Oktober, 2011

dans dan …!

Oktober 20, 2011

Hallo!

Gisteroggend skryf Philip Kotzé op Facebook: “Sing as jy praat en dans as jy loop.” En daarmee, met die “dans”-woord, sing hy my onmiddellik en onwillkeurig terug in laas week se sinode saal. Een van die songs wat by die opening gebruik is, was Sydney Carter se Lord of the Dance. Nogal vir my ‘n onverwagse, verrassende keuse. En telkens kon mens die meesleurende refrein daarvan deur die sinode-week hoor eggo. Die lied het duidelik die mense aangegryp.

Onthou jy die song? Ken jy dit? Laurika Rauch het dit ook opgeneem. Dit vertel Jesus se verhaal op ‘n Keltiese ritme in ‘n liedjie-neutedoppie. Met ‘n aansteeklike wysie wat vir dae lank deur ‘n mens se kop bly draai. As jy wil kan jy gaan luister hoe Carter self dit sing: http://www.lyricsmode.com/lyrics/s/sydney_carter/lord_of_the_dance.html

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

Dance, dance, wherever you may be … Wat sou die “dans” wees waarvoor ons so hartlik genooi word – almal van ons, waar ons ookal is? Sou dit die lewe in die algemeen wees, met sy wisselende en komplekse ritmes? Dalk meer spesifiek die intieme pas de deux van ons naaste en belangrikste verhoudings? Of dalk die uitdagende solo-dans van volledig jouself wees – van vry en vreesloos wees wie net jy kan wees? Is dit dalk die fynvoet choreografie van geloof in ‘n wêreld vol pyn en vrae? Of die wals van genade – met sy bedrieglik eenvoudige drie-slag maat van geloof, hoop en liefde?

Dance, dance, wherever you may be

Ek lees dat Sydney Carter die liriek van Lord of the Dance twee jaar na my geboorte geskryf het – so dis nou al ‘n middeljarige songkie :-). Hy het egter die wysie van ‘n veel ouer lied gebruik – ‘n lied met, vir my, selfs meer aangrypende woorde: Simple Gifts.

‘Tis the gift to be simple, ’tis the gift to be free,
‘Tis the gift to come down where we ought to be,
And when we find ourselves in the place just right,
It will be in the valley of love and delight.

When true simplicity is gained,
to bow and to bend, we will not be ashamed
To turn, turn, will be our delight,
‘Til by turning, turning, we come round right.

And I lead you all … Wat ‘n gift ! Wat ‘n geskenk – om so vry te kan leef dat jy onbeskaamd kan buk en buig en kan draai. Want dít is wat elke denkbare vorm van die lewensdans vra: dat jy met soepelheid moet kan turn, turn, turn … Soms net op daardie een plek waar jou siel nou is; soms al hoe wyer en wyer uit … ‘n toekoms in!

And I lead you all in the dance … Elkeen se dans is sy eie. Vir Sydney Carter self, was die dans sonder vaste patroon, sonder die sekerheid van presies vooraf uitgewerkte, deeglik ingeoefende passies. Sy gedig, Interview, maak dit duidelik:

“So what do you believe in?
Nothing fixed or final,
all the while I
travel a miracle. I doubt,
and yet
I walk upon the water

And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

Om in ‘n dans gelei te word, vra vertroue, ‘n instap in oop arms in, ‘n aandurf van die vloer, ‘n saamsmelt in ‘n gedeelde ervaring, saamluister na dieselfde musiek. Jy word doelbewus ‘n “ons” – in ‘n berekende aanbied en oorgawe van jou “ek”. En jy travel a miracle.

Wat hou dit vir jou in, nou?

Weet jy? Waag jy?

Wil jy?

I am the lord of the dance, said He

 

Annalise Wiid

0824563396

anniessong@absamail.co.za

http://www.annalisewiid.co.za

https://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

Advertisements