Archive for Julie, 2011

mooiste mooiste mooi

Julie 29, 2011

Mooiste mooiste … Ek het hierdie week ‘n rubriek geskryf oor mooiste mooi dinge. Jy kan dit in Oktober se uitgawe van Lig lees … Kon aan soveel wondermooi dinge dink, dat daar nie plek in die rubriek se beperkte woordspasie was vir alles nie. Nou spoel dit maar oor in hierdie briefie:
In Cardiff se kunsmuseum hang een van Monet se waterlelie skilderye. Massief! Veel groter as wat jy jou dit voorstel uit kunsboek glans afdrukke. Enorm. Maklik twee by twee meter. En oorweldigend mooi! Só, dat ek, toe ek om die draai kom in die museum en myself onverwags daarin vasloop, onkeerbaar begin huil. Snak en snik gelyk. 🙂 Die lig, die kleur, die kwastekstuur, die gevoel wat dit in jou opwek, selfs die geur van water en groenigheid wat dit onwillekeurig in jou verbeelding loslaat – dit is die werk van ’n meester!
In ‘n omgewoelde week soos hierdie, waarin
• Ons vandag ons Mavis se twee-maande-te-vroeg-gebore babatjie vir die eerste keer kon huis toe bring – met ‘n beentjie vol verbande omdat die drupvloeistof in sy weefsel gegaan en septies geraak het – en ‘n diep lag-dimple in sy wang
• Ander mense se seunskind ontvoer en na twee dae weer gekry is – lewend, maar nie ongedeerd nie
• ‘n Begrafnis en ‘n verjaardag so kort na mekaar gevolg het dat hulle byna oor mekaar getuimel het
• ‘n Noorse “fundamentalistiese christen” beserk geraak en 76 mense afgemaai het, en
• Suid-Afrika beskryf is as “’n land wat soos ’n renoster op sy knieë sak en stadig omrol met die gieriges soos aasvoëls met hul duur jaggewere grynsend oor die karkas” – Charles Smit in die Volksblad,
in só ‘n week het ‘n mens al wat MOOI is lewensreddend nodig!

Re-laas: ‘n Verkwiklike paar weke van tuisbly lê agter my rug. Hoewel ek vooraf beplan het om vreeslik baie te skryf, en vooruit te beplan aan komende optredes se inhoud en reg te pak en wie weet wat nog, het ek gevind dat dit ook lewensnodig was om vir twee weke net te rus en my kop en gemoed leeg te maak van alles wat ongemerk plafonhoog daarin opgehoop het!
Nou is ek gereed vir:
29 – 31 Julie se vrouekamp saam met Lux Mundi gemeente van Pretoria
2 Augustus se klein operasie om ‘n vasgeknypte senuwee in my been los te sny
(miskien sal ek in die hersteltyd daarna kan inhaal op alles wat ek nie die afgelope weke gedoen gekry het nie ??)
14 Augustus se oggend erediens op Porterville ten bate van Huis Jabes vir mishandelde vroue
21 en 22 Augustus se mini-reeks by Hennenman se 3 NG gemeentes oor die lewe van Josua
23 Augustus se aand saam met my eie Helderberg gemeente se wyksleiers
24 Augustus se oggend optrede vir Badisa
26 – 28 Augustus se naweekkamp en oggend erediens saam met Uniondale gemeente en
31 Augustus tannie Bettie se verjaardagviering …!

Ek wens regtig ek was nie allergies vir opkikkers en steroids en allerlei wilde doepa-goed nie 🙂
Ek sal maar, soos Audrey Blignaut, my doepa in die heerlike kleinste dingetjies vind.

Vir my is die broodkoek van die vreugde,
die kruik water van die skoonheid onder my oë
lewensnodig.
Ek moet vervoering vind in die lewe.
Ek moet die heerlikheid kan sien
wat daar in die kleinste dingetjies is…” Audrey Blignault

En tussen alles deur probeer onthou dat Dawid gesing het:
Neem my in beskerming, o God;
Ek soek skuiling by U.
U leer my hoe om te lewe.
Uit u hand kom net wat mooi is. – Psalm 16

Mooiloop,

Annalise Wiid

Advertisements