Archive for Desember, 2010

lavender

Desember 21, 2010

Vanoggend, vroegerig – nog voor die son so skreiend geniepsig geraak het en terwyl ‘n siedende suidoos reeds wolk en water genadeloos rondpluk – het ek die lavenderbosse hier onder my venster gesnoei. Ja, ek weet die suiwer-Afrikaanses praat van laventelbosse, maar laventel ruik mos nie soos lavender nie. 🙂  Laventel ruik soos oumenssent en kantsakdoekies. Lavender ruik soos dagbreek se klammigheid, wanneer ‘n mens gemoedelik gelok word om moontlikhede te omarm. Laventel ruik soos donker gange en benoude kamers. Lavender ruik soos uitbundige ooptes en landerye en reise oor grense … Lavender is skemeraand se tuintroos as die dag uitgeput op die horison neersak. Lavender ruik, koesterend, soos wintertyd se warmbad. Lavender is, kragtig, pure uitgelate somersgeit: bye en skoenlappers en wieg-in-die-wind kleur!

Terwyl ek die jaar se oordadige groei wegsnoei, kom lê die gelaaide geur op my vel, in my klere, in my gemoed … En die bos wat onder my snoeiskêrhande deurloop, word ‘n metafoor vir die jaar wat agter my rug lê. Ek knip die uitgeblomde takke af: plekke waar ek was, waar my spoor dalk nog lê, dalk vergeet al doodgewaai is … mense by wie ek aangedoen het, oorgebly het, ingekruip het, verbygesnel het … ervarings wat my siel gevorm, gevoed, en soms geskend het … baie vreugdes en verwonderings, ‘n paar vasklouerige viesgeite …
Knip af, hulle tyd is verby! Sny skoon, dis tyd om plek te maak vir nuwe groei!

Nie dat ek alles sommer net summier weggooi nie. Daarvoor is ek hopeloos te veel van ‘n bêremens. Op my eetkamertafel staan nou ‘n groot, geurige bos herinneringe waarby ek vir dae lank nog met genot gaan aansit. En in my hart maak ek elkeen van júlle, wat my so lojaal ondersteun, in ‘n bêrebossie bymekaar – veral dié by wie ek in 2010 opgetree het, wat my met soveel warmte en liefde ontvang het, met wie ek die wonder van God-met-ons kon deel en beleef!
Baie, baie dankie vir julle ryk geur in my lewe. Ek is daarvan deurdrenk!

As ek jou vandag ‘n Geseënde Kerstyd toewens, bid ek dat Jesus-by-jou jou sal skoonsnoei van hierdie jaar se oorgroei – goed en sleg; dat Hy jou hart sal lig maak met sy vrede en ‘n diep, onverdunde blydskap.
As ek jou ‘n Voorspoedige Nuwejaar toewens, bid ek dat jy bewus sal bly van Jesus-by-jou … soos ‘n mens bewus bly van die onmiskenbaarheid, die sagte behaaglikheid van lavender.
Ek kan dit nie in mooier woorde sê as wat vanoggend op die NG Kerk se webblad staan nie:
dat jy op ’n verrassende manier in 2011 sal ontdek hoe wonderlik jy vir God is
dat jy op allerhande maniere sal insien dat jy iemand besonders is – met menswaardigheid
dat jy verwonderd sal wees dat God aan jou daardie waarde toeken (maak nie saak wat ander sê/doen/dink nie) en
dat jy met hierdie God-waardigheid met ’n diep selfwaarde en selfvertroue sal leef
dat dit jou in alle omstandighede sal dra en ondersteun
dat dit alles jou sal motiveer om met nadruk en oorgawe gereeld die ou Taize-gebed te bid:
“Jesus Christ, Inner Light, don’t let my darkness speak to me”

Ns. MEDIANUUS:
• Ek was onlangs ’n gas op die program Life 24/7 wat Sondagoggende om 08:30 op TV 2 gebeeldsend word. Hier is die Youtube weergawe as jy dalk wil gaan kyk: http://www.youtube.com/watch?v=KN6J98AnEHU

• EK het ook onlangs die aandoordenkings op RSG aangebied. Jy kan daarna luister op RSG se webwerf by KLANK, AANDMEDITASIE, 15 – 20 November 2010.

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
http://www.annalisewiid.co.za
https://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

Advertisements