Archive for September, 2010

woord-loos

September 16, 2010

ek was lank stil, ek weet. het niks gehad om te sê nie. en my pa het my kleintyd al geleer: dít is die heel beste tyd om jou mond te hou. nie dat daar nie hoevele dinge, hóévele wonderlike moeite-werd-dinge, gebeur het sedert ek laas geskryf het nie. my praatlus en skryflus was net vir ‘n rukkie weg – soos winterboomblare.

stilbly is soms baie goed. dit leer ek opnuut, en met intense verkneukeling, toe ‘n onverwagse stukkie wysheid anderdag uit die kleintjie se mond val. sy kuier hier en om een of ander rede begin praat ons oor hoofpyn. “you know what happens when you have a head ache?”, vra sy met ‘n uitdrukking van oerwysheid op die 5-jaar-oud gesiggie. “all the niceness inside of you turns upside down in your mouth and only the ugliness comes out.” slaan sy my vir ‘n stomme ses! 🙂 waar kry sy soveel insig? ongetwyfeld gebeur dit so. ding is net: dis nie noodwendig net kopseer wat die onderstebodraai veroorsaak nie. daar’s mos heelparty ander oorsake ook
miskien was my stilbly ‘n onwillekeurige reaksie op die intense rumoer van die sokker vuvuzelas?   🙂

wanneer daar nie woorde is nie … waaroor jy stilbly sê dikwels meer van jou as waaroor jy praat. stef bos se lied oor sy sterwende ma is in my siel ingegraveer: het gevoel is te groot voor woorde, sing hy. cussons dig weer: ek het my hoof in sy hals gelê want wat kon ek sê? dít in dieselfde gedig waarin sy praat van die donker, donker swye

dankietog vir lente. wat met genadige reëlmaat altyd weer ons winter-swyes of ons winterwoorde kom óópleef – skielik, verwag maar steeds verrassend, bot daar op ‘n dag weer nuwe warmte, kom daar nuwe kleur uit die vaaltes te voorskyn.

re-laas:  o, soveel, soveel het gebeur. ek het gaan sing en storie in jeffreysbaai, bloemfontein, vanrhynsdorp, wortelgat, randburg, mokopane, centurion, hennenman, tulbagh, milnerton, en laasnaweek, onoortreflik lekker, in oudtshoorn!
komende naweek is ek, saterdagoggend by edenvale NG kerk vir ‘n damestee en sondagoggend in my eie somerset-wes dorp by heritage manor vir hulle oggenddiens. dan gee die skoolvakansie my ‘n welkome afnaweek voor ek weer op 3 oktober by kraaifontein se gesinsfees die erediens doen.
ag, en hiermee sommer weer ‘n uit-my-hart-uit DANKIE vir almal van julle wat al bogenoemde geleenthede geïnisieer en moontlik gemaak het!!

en as God stil is? soos ons Hom so dikwels ervaar?
‘n vriend vertel onlangs die volgende: tussen die verskillende bewegings van ‘n simfonie of klavierkonsert lyk dit ook asof die dirigent stil is, maar hy is nie –
as jy mooi kyk sal jy sien hy hou tyd …

wees stil en weet …
groete,

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

Advertisements