‘n droom wat wag om waar te word

Januarie 7, 2016

Dink net: As ‘n jaar ‘n dag was, was die lug nou nog die ene slaappienk en bleekblou pastelle. En het die voëls kwetterend begin geselsies maak. Hoor jy? Mossies en spreeus. Piet-my-vrou. Janfrederik. Daai harde Hadida skater. Die sug van ‘n duif. Tarentaal kuikens wat kipkipkip deur die tuin agter hulle ma aan.
Die flukses onder ons vlieg reeds vroeg uit die vere en begin al oefen en werk. Dié wat nog so gelukkig is om vakansie te hou, lê vir oulaas ‘n bietjie laat (en laag). Lees, eet ‘n langsame ontbyt, wonder lui wat hulle vandag sal doen.
Ek skat die son se eerste strale tref ons almal in die komende week wanneer die skole heropen. Dan gaan dit sommer vroegdag al bloedig word!
Soos enige ander dag lê hierdie jaar voor ons: Met dinge wat gedoen moet word, geniet gaan word, verduur gaan word. Met tonekrul vooruitsigte na lekkertes en verrassings. Met rugkriewel voorspooksels van verkeerd-loop en verlies.
Tot ‘n mate voorspelbaar. Maar eintlik ook glad nie. Die dag is ‘n wit doek. Met hier en daar ‘n vae buitelyn. Sy storie moet nog ingekleur word …

KYK HAAR OË

Woordfees 2016: 6 Maart 10:00; 13 Maart 20:30.

Vandag begin teken, ontwerp, verf, speel, eksperimenteer, mors, ontdek en dans ek met kryt en kwaste aan ‘n plakkaat/skildery vir die KYK HAAR OË-show wat ek op die Woordfees gaan doen
Saam met fluweelstem Chris van Niekerk, wat die teks vertolk; meesterlike Matthys Maree op die klawers en hopelik vlindervinger Juan (Floors) Oosthuizen op kitaar – hopelik, want ons probeer nog repetisie skedules uitpluis.
Venue: Laer as Laag – wat dalk mag klink soos kruip of vloere vee, of lag tot jy lê, maar dis ‘n stylvolle saal met dik rooi-fluweel verhoog gordyne en ‘n nostalgiese (en dramatiese) victoriaanse swart en wit skaakbord-vloer.
Kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.

Die ontwerp waaraan ek vanoggend begin werk het skets ‘n vrou voor ‘n skilder esel. Haar kwas huiwer op die wit doek. In haar is beelde van Afrika … waar die grond ‘n vrou is, bruin en rond, wild en stukkend en mooi.
Ek gaan daai vrou word op die verhoog, wanneer Chris begin vertel: “Sy het in die somer gekom. Sy’t ons op reis geneem, die ooptes in. Ons ook vasgekeer in klowe. Ons kon nie omdraai nie. Daar was nooit weer uitkomkans nie. Kyk haar oë – sy’s wonderlik mooi!
En dan begin ons skilder – met stemme en woorde en stories en klank; met die wortelgrond van ons wese – in harmonie en solo; met riffs en runs; en asemsnak stiltes. Ek sien uit na ‘n enorme ervaring! Dis ‘n droom wat wag om waar te word.

Hou Facebook dop. Ek sal elke week iets post oor hoe die show ontwikkel en bymekaarkom …

 

Dink net: As hierdie nuwe jaar ‘n dag was … of ‘n skoon skilderdoek …
En ons neem, (ek haal J. van der Berg aan uit sy boek: ook die klein dingetjies) “ons gereedskap op en hamer en beitel en borduur ons merkie op die helder dag wat groot en hoog oor ons seil; en saans, as die stof van ons gewerskaf saam met die dag in die weste sak, dan gaan bêre die sterwende dag dit by die skatte van die verlede – die waardevolle stippeltjies saam met die waardelose rommel.
Ons weet nie waarom die helder dae oor ons afgerol word uit die rol van die ewigheid wat by sterrestelsels en heelal verbystrek nie; ons weet nie waarom dit aan ons gegun word om, ten goede of ten kwade, ons merk daarop te laat nie; ons weet alleen dat die ewig bewegende doek daar is en dat dit in ons gelê is om dit te wil versier.

Daarmee dan my wens vir jou vir 2016:
Maak mooi! Maak jou merk. Voeg jou unieke kwashaal tot die ewige skilder-doek van die menslike verhaal. En …
Maak mooi!

Annalise

‘n stil brug oor ons weerloosheid

November 26, 2015

Wanneer die jaar se wielewaal so begin afwentel – stadiger, stadiger, rustiger, kalmer, – vind ek dat ek weer helderder dink, dieper voel en fyner begin luister. Dit word stiller binne-in my. Stil. Ek hoor meer, helderder. En soms, soos die afgelope weke, wil ek my ore toedruk. Want wat ek tans in NG Kerk kringe hoor maak my hart seer: Woorde, frases, soos “ons distansieer ons van die gesprek” en, by implikasie ook dan van mekaar. Of “ons weerhou nou ons finansiële bydraes”. Of “dis al weer die ou storie van mag en manipulasie”. Of, nog erger, “ons voel ons self nie meer veilig of tuis hier nie”.  Stil.
Ek hoor soekende, sukkelende woorde soos “hoe help ek my kind hiermee?” Of “unity in the essential, liberty in the non-essential – maar is onvoorwaardelike liefde nie ‘n essential nie?” Of “wat maak ek met die kwaad, die seer, die venyn, die apatie, die teleurstelling, die vernedering en gebrokenheid wat dreig om ons te verswelg?” Of, nog pynliker, “hoe bly staan ek tussen my twee broers, wat ek lief het, wat weerskante van my is, beide opreg seker van hulle saak, maar hulle kan mekaar glad nie vind nie; wat vra die Evangelie van Christus nou van ons?” En, o God, “wat word nou van die nagmaaltafel?”  Stil.
Ek hoor ook hande-uitsteek woorde en frases wat my moed gee, soos: “Ons verskil van mening, maar ons wil mekaar tóg probeer hoor”. Of “ons wil eerder met mekaar praat, nie net van of oor mekaar nie”. Of “watter bydrae kan ons maak tot die kerk se welwese; hoe maak ons mekaar heel?” Of, nog mooier, “ons bly lief vir mekaar en aan mekaar verbonde; ons weier om mekaar te laat los!”  Stil.Re-laas:  Ek is letterlik weer op vrye voet. Die krukke en moonboot en fisio en kranklikheid is iets van die verlede. Ek kan weer dans.

Relaas:

  • Ek kon wonderlike optredes en retreats beleef by Mosselbaai, Kuilsrivier, Randburg, Newcastle, die Laeveld, Strand en Bettiesbaai. BAIE DANKIE aan elkeen wat dit bygewoon het en dit boonop nog so met oorgawe geniet het! Julle maak dit vir my die moeite werd!
  • Die voorreg om artikels vir Kerkbode te skryf het my met ‘n hele klomp uiters inspirerende mense in kontak gebring. Dit is regtig vir my vreeslik lekker om hulle stories te vertel. My lewe (en baie ander mense s’n) word so verryk deur hulle verhale!
  • En natuurlik was daar ook die lekker van elke maand se LiG rubriek – en mense wat my raakloop by optredes, of sommer in die dorp – en sê: “Ek het dit gelees. Dit het vir my baie beteken.” Hulle het geen idee hoeveel beteken dit weer vir my nie!
  • Nou lê daar nog net 2 optree geleenthede voor: Komende Sondagaand (29/11) se Kerssangdiens op Prins Alfred Hamlet en die daaropvolgende Sondagmiddag (6/12) die Kersdiens van die VGK op Tulbagh.
  • Tussendeur fokus ek op die klaarmaak van ‘n manuskrip vir ‘n volgende boek.
  • En begin beplan en repeteer ons aan die Kyk Haar Oë-show wat ek saam met Chris van Niekerk, Matthys Maree en Juan Oosthuizen by volgende jaar se Woordfees doen …

 

En dan, as dit alles afgehandel is, wil ek net stil word. Tuis kom, tuis bly. En rus.  Stil.
In die onrus wat tans oral om ons woed, nie net in die kerk nie, wil ek vrede herwin en dit weggee soos geskenke.  Stil.
Ek stuur ook vir jóú, met hierdie laaste-nuusbriefie-van-die-jaar, alles wat mooi en goed en verkwiklik en troosvol en helend is. Mag die dinge wat jou hart ontstig en seermaak oorspan word en toegedek word met die wonderbare “vrede op aarde” waarvan engele sing en waaroor God droom. Die soort vrede wat Jesus moontlik maak met sy lewe-neerlê-liefde.

“Stil het ek ‘n kers gebrand om jou donker te verlig … En oor die afgrond van jou weerloosheid bou ek toe ‘n brug”
So sing Hilandi du Toit op haar nuwe CD, Die Somer Het ‘n Geel Rok Aan
So, glo ek, sing God ook vir ons.

Dankie vir die brug tussen my en jou dwarsdeur die afgelope jaar!
Hart-groete,

Annalise

eet turmeric en cherries en hou moed

Julie 23, 2015

Pynlik stadig en weggesink in my eie kokonwêreldjie, wat tans maar grys is soos ‘n wintersee, kruie ek gister deur die Mall. Klomp mense blits by my verby. ‘n Uitsonderlike een val langs my in. ‘n Jong reus – maklik een en ‘n half maal my lengte. Hy pas sy stap spoed, afgemete, gefokus, by myne aan. Sê niks. Smile en kyk net vir my.
Jy ken van krukke-loop, sê ek.
Ja, sê hy, ek het ook op ‘n tyd so aangesukkel. Maar kyk hoe lekker loop ek nou!
En hy gee ‘n paar groot treë vorentoe om dit te bewys. Staan dan en wag tot ek weer langs hom kom. Stap stadig verder saam met my …   Hy sukkel nog bietjie met sy balans, maar andersins is hy okay, sê hy. Die vrolike jongman loop praat-praat met my tot by Edgars se deur:
Ek was mos in ‘n slegte ongeluk. ‘n Slegte ongeluk, Tannie. Ek was op ‘n padfiets, toe tref ‘n kar my. Vandag is dit 14 jaar, 7 maande, 3 weke en 4 dae gelede. Kyk, hier sit die letsel aan my keel waar hulle die trachie ingesit het. Hy rammel sy rits beserings en behandelings vinnig af: Gebreekte nek, ribbes, fibula; breinbesering; kateter, trolliebed, rolstoel, krukke, kierie … Dit het laaaaaaank gevat om reg te kom. Dit was maar #@kkerig. (Sy enigste kragwoord. En dis nie vloek nie; dis opreg net sê-soos-dit-is). Sy mediese rekenings was ook ‘n kleinhuisie vol!
Ek kan dink, sê ek.
Nee, jy kan nie, sê hy. En hy lag.
Hy was graad 11 toe die ongeluk sy lewe om ver gooi. Het later matriek gemaak – oor 2 jaar, 3 vakke ‘n jaar. Ek was so stadig, verduidelik hy, so stadig! Maar ook so vasberade. En suksesvol. Nou woon hy in sy eie woonstel. Beduie vir my presies waar dit is, dat ek kan toet en waai as ek daar verby ry. En hy en sy Baby is al 6 jaar saam. Hulle trou binnekort, kondig hy trots aan. André Kobilewsky is sy naam. Hy is nou 32.
Het jy pyn?, vra hy my. Gebruik Turmeric. Hy vryf sy vingers teen mekaar, asof hy die fyn geel poeier tussen hulle kan voel. Turmeric, sê hy, in Engels; nie Afrikaans se gewone boere-borrie nie. Turmeric is anti-inflammatories, verduidelik hy. Maak vir jou ‘n smoothie. Bietjie louwarm klappermelk, en dan gooi jy ‘n teelepel heuning daarin en die Turmeric.
Hoeveel, vra ek, kwart teelepel? ‘n Halwe?
Nee, sommer ‘n hele teelepel! Nie meer nie. Jy wil mos nou nie putty maak nie. Jy wil dit nog kan drink. Maar gooi genoeg in. En bietjie swart peper daarby. Dit verbeter die werking.
Hy buk skielik vooroor. Vou my toe in sy lang arms, vas teen sy groot bors. Asof hy my wil troos teen die seer; wil krag gee. Sy spontane sorgsaamheid ontroer my. Sy byna kinderlike lewenslus lig my hart. Hy druk sy wang teen my gesig. Ruik, sê hy, ruik hoe lekker ruik ek. Nuwe naskeer. Pure goedhartigheid. Vonkel in die oog. Daar is groot genot in klein dingetjies.

Re-laas:
• Soos jy kan agterkom is my gevalle voet nog op die herstel pad. Ek het al ver gevorder en het goeie moed dat ek binnekort weer gaan ligvoets wees. Dankie vir almal se aanmoediging. Soos André Kobilewsky, was elkeen van julle langs my net mooi wanneer ek julle die nodigste gehad het.
• My hart is tans baie seerder as my voet. ‘n Vriend-wat-eintlik-al-soos-familie-was is laasweek oorlede. Die verlies oorskadu alles anders. Sy dogtertjie, my fairie-kleinkind, se hartjie is gebroke. Die res van ons s’n ook.
• Werksgewys het ek sedert my vorige brief ‘n Welwees-dag aangebied vir Badisa Op-Die-Berg – ‘n dag wat ek waarskynlik nog meer geniet het as die gehoor, dit was sooooo lekker!
• Ek was ook deel van die kommunikasie span by die Wes-en Suidkaap sinode van die NG Kerk – het deurlopend verslag gedoen op hulle Facebook blad. Dit is goed as mens ‘n ooggetuie kan wees van die kerk se saam-groei in geloof en liefde. Ek het bevoorreg gevoel om daar te wees.
• Ek kon weer Lééf se retreat aanbied in Mei. Hierdie jaar was die tema: Die lewe is ‘n las-lap love song. Met die bottom line vraag: Hoe lief kan jy hê? Soos elke jaar was dit hierdie keer ook iets wat ek nie sou wou mis nie. Daar is net elke keer so ‘n besondere warmte en liefde tussen almal wat dit bywoon.
• Daarbenewens het ek ‘n vroue naweek by Driehoek gemeente in Vanderbijlpark aangebied – waaroor ek terloops ook ‘n storie vir Kerkbode geskryf het (oor die kunstenaar Tania Thandeka, wat skilderye gemaak het tydens elke sessie wat ek aangebied het). Ek het ook, saam met Hennie Swanepoel ‘n lekker sop en sjerrie Saterdagaand-konsertjie gehou in Melkbos ten bate van die ACVV. En 2 en ‘n halwe nuwe songs geskryf.
• Die enigste optrede wat ek (met groot spyt) moes kanselleer weens die moonboot en krukke was ‘n fondsinsameling vir Huis Jabes, einde Mei, waarvoor mens meer energie en presence sou moes hê as wat ek toe kon bied.
• Naas Tania Thandeka se storie vir Kerkbode, het ek ook vir hulle ‘n lekker artikel gedoen oor die Bergie-kerk wat elke Woensdagaand in Gordonsbaai gehou word. Jy kan dit lees in die 24 Julie uitgawe.
• Die gewone LiG-rubrieke het onverpoos voortgegaan, met temas soos die trauma van huisbraak, die verkwikking van verstaan-word, en nou, vir September se uitgawe, ‘n tong-in-die-kies (of is dit tong in die KOS) oor almal se maniese ge-diet in die lente!
• En vandag het ek 2 onderhoude opgeneem vir KRUISKYK se Mosaïek program – een oor wie ek is en wat ek doen, en een waarin ek van my stories voorlees – wat onderskeidelik op 13 en 20 Augustus uitgesaai word om 06:30 en weer herhaal op 15 en 22 Augustus om 15:30.
• Gaan kyk bietjie op my webwerf – daar’s nou ‘n special op Driveway Divatjies!

André Kobilewsky groet my voor Edgars. Onthou nou die Turmeric, maan hy. En waar my woonstel is. Kyk vir die boonste vloer, middelste woonstel; die een met die netjiese aircon trunking. Eet piesangs. Dit boost jou serotonien. En eet cherries. Dis goed vir jou bloed. Varses. Nie daai soet #@k wat op die winkelrakke staan nie. Die regtes. Swart kersies. Vars cherries! Eet dit; dis goed vir jou.
En hou moed!, roep hy vir oulaas oor sy skouer. Kyk net hoe lekker loop ek nou!

Mooi loop, jy ook,
Annalise Wiid

selfs as ek struikel en dit berou

April 21, 2015

Picture the scene: Ek kom die kerk van voor af binne – uit die konsistoriedeur, reg langs die preekstoel, waar almal my kan sien. Die gemeente sit gepak – ‘n goeie seker 600 mense, dalk meer. En voor hulle almal kom ek tot ‘n vreeslike val! Van nie kyk waar ek loop nie. Van ewe vrolik en vriendelik groet en glimlag, kyk ek mos toe ‘n laerige trappietjie skoon mis en slaan neer met ‘n aardskuddende knal, soos ‘n bliksemstraal!! Wat ‘n enorme en pynlike verleentheid. 🙂
Dominee, drommer, keyboard speler, lofdansers, dokter – binne sekondes swerm hulle almal om my; help my op, verbind my voet, maak my gemaklik op die voorste kerkbank, hou my hand vas, vryf my skouer, bid vir my, dra water en pynpille aan. Iemand kom aangehardloop met ‘n bevrore wildsboudjie uit die kerkkombuis se vrieskas, toegedraai in ‘n PicknPaysak – sit dit op my swellende enkel as ‘n nood-ice pack.
Die diens begin amper 10 minute laat. Ons eerste lied is: “God is hier teenwoordig, … kom nou almal nader”. Ek is veronderstel om daarop te antwoord met my eie lied: “Here, ek kom nader”, maar ek besef: onder die “gevalle” omstandighede gaan dit bietjie (baie) stupid klink, want my volgende singwoorde is dan: “kaalvoet, skoorvoet, lomp …!” Die gemeente skater toe ek dit sê. Ons lag al die skrik oor my skielike val skoon weg.
Op die ou end hou ek kerk in my swart-en-wit-strepies sokkies – my skoene lê onder die kerkbank uitgeskop – terwyl ek op my linkerbeen staan en balanseer soos ‘n koningskiewiet. My regterknie stut ek op ‘n stoel, sodat die beseerde voet in die lug kan hang. Komies, potsierlik en ongemaklik seer!!! Teen die einde van die tweede diens, help die dominee my stadig en sorgsaam die trappies af. Net op daai oomblik sing die gemeente: “Here, Redder, groot en magtig, U het ook my hand kom vat.” Ons kyk vir mekaar en lag weer. Maar die keer met ‘n diep-weet in ons oë: Kerk was vandag teater van die Evangelie.

Re-laas:
♦ Ná Maart se 2 Wêreldbiddag vir Vroue byeenkomste, wat besonder lekker was, was ek ook op 21 Maart deel van ‘n Wêreld Vrouedag byeenkoms met die tema: Dream, Believe, Make it Happen! Verskeie vroue het daai dag vertel watter uitdagings hulle moes aandurf en oorkom om hulle drome (of soms net hulle lewens) te “make happen”. Ek het uiters bevoorreg gevoel om te kon skouers skuur met vroue van sulke deurdruk-stoffasie.
♦ Paasnaweek was ek by Mosaïek Gemeente in Fairland, Johannesburg met Driveway Divatjie, en het ook deel gehad aan ‘n groot konsert met verskeie ander kunstenaars en gesing tydens die Sondag se Opstandings-eredienste.
♦ Laas Dinsdag het ek Tulbagh se bejaardes (NG sowel as VGK) gaan vermaak met Driveway Divatjie en
♦ Die afgelope naweek het ek ‘n vrouekamp aangebied by George Bergsig, met die tema Tent-opslaan en God-gesprekke (oor menswees en heelwees) – ons het ‘n insiggewende en inspirerende stuk lewenspad met Josua saamgereis deur Eksodus, Numeri, Deuteronomium en die Josua boek. (Hoe ironies dat ek juis tydens die “heelwees”-erediens my enkel in sy glory in val)
♦ Ek kon ook weer ‘n paar artikels vir Kerkbode skryf – 1 oor ‘n gerehabiliteerde gangster, 1 oor ‘n kanker kindjie met ‘n mooi oorlewingsverhaal en 1 oor Badisa-mense se reaksie op die toneelstuk Rondomskrik. Vir LiG het ek, naas my maandelikse rubriek, ook ‘n artikel geskryf oor ouers se reis wanneer hulle ‘n kind op die Outisme spektrum het. Vir my persoonlik was die onderhoude met die mense oor wie ek moes skryf uiters verrykend en interessant. Ek is gelukkig om dit te mag doen!

 

Die teater van die Evangelie speel hom oral om ons en tussen ons uit: Stukkende, vallende, seer mense word omarm en opgehelp en liefgehê. God vat hulle hand.
Gelukkig is ons wat daaraan deel het!

Ek groet jou, Begenadigde,
Annalise

Gee my Krag!

Februarie 11, 2015

Kan jy glo? Eskom het my ‘n guns gedoen! Ek weet meeste van ons is deesdae meeste van die tyd diep die dinges in vir hulle, maar vir ten minste een keer het Eskom my ‘n guns gedoen.
Sondagoggend tussen 10:00 en 12:30 het die krag in hulle kabels weer gaan lê – futloos, soos ‘n uitgewaaide wind. Doodtjoeproerloosstil. Letterlik. Want eensklaps is die radio se mond gesnoer. Die CD kon nie speel nie. Die TV was stom. Al die gewone agtergrond geluide was weg. Skoonveld. Salig! Ek het weer bewus geword van voëltjiekwetter in die tuin, die bure se stemme, kinders wat lag by die swembad. En tussendeur net niks. Suiwer, bekoorlike klankvrye stilte.
Ek het skottelgoed gewas. En terwyl my hande die vuil in skoon omtower, het my kop wye draaie geloop: Een-een by my naastes aangedoen; gaan stil staan. Stil. En op ‘n ek-dink-aan-elkeen-met-groot-liefde-manier ‘n geluidlose Godgesprek in my gedagtes gevoer. Ek het die beskuit wat deur die nag uitgedroog het tydsaam weggepak. En vir die nuwe bure skons gevat – wat ek gelukkig die vorige dag gebak het toe beide ek en Eskom nog krag gehad het.
Daarna het ek die tuin natgespuit, met die wind in my hare en die son op my rug. ‘n Wit skoenlapper het aanhoudend vrolik om my rondgevlinder. ‘n Wolk wat nes ‘n donkievul in ‘n Claerhout-skildery lyk, het deur die lug galop. Ek het lelies geruik. Asemgehaal. En gelukkig gevoel.
Die 2 en ‘n half stil ure se klein handelinge gaan nou wel geen aardskuddende effek hê nie. En ek sou waarskynlik baie meer kon uitrig as al die nodige en handige elektriese apparate up and running was. Maar vir hierdie één keer het Eskom my nie frustreer en omgekrap nie. Hulle kraglose kabels het my ‘n guns gedoen: Ek het krag gekry.
Uit die stilte. In my hart. Om met nuwe kreatiwiteit en groter deursettingsdrif te lééf. En dieper lief te hê.
Dit is wat ek jou toebid vir 2015 …
Krag! ☺
In die Amplified se woorde uit Efesiërs 3: 16 – “May … you … be strengthened and reinforced with mighty power in the inner man by the [Holy] Spirit [Himself indwelling your innermost being and personality]”
Groete,
Annalise
Ns. Tot die einde van Februarie is ek nog besig met skryfwerk en voorbereiding vir die jaar se optredes. Begin Maart, ná ’n Wêreldbiddag vir Vroue byeenkoms by La Rochelle gemeente, vat die vlieëry weer vlam as ek Gauteng toe gaan vir nog ‘n Wêreldbiddag optrede by Secunda Goedehoop. Later sluit ek Maart weer af met stories en songs oor die liefde op Saldanha

‘n EKSTRA kersgeskenk

Desember 11, 2014

Ons was nog nie 3 ure op pad vir ons 3 weke vakansie nie, toe trap Vriendin in ‘n spoelgat in die veld en ‘n skerp klip sny haar enkel van voor tot agter siel-sidderend oop. Ja, jy’s reg, dit was inderdaad ‘n –slag. Sy loop nou vir die res van haar lewe met ‘n ellelange letsel. En die res van ons met die grafiese wete dat ‘n wond werklik kan gaap. Godsgenadiglik is daar aan niemand blywende skade nie. En was daar steeds onvergeetlike, verruklike belewenisse op die tog. Maar ons het ook ‘n paar lewenslesse weer goed hersien, hoor.
Die belangrikste daarvan was: As jy op reis is met ‘n wond (hetsy in die voet of die gemoed) het jy ‘n paar ekstras nodig:
Kalmte – veral as die skrik en histerie dreig om jou asem uit jou uit te wurg
Humor – veral as dit nie meer snaaks is nie
Rus(tigheid) – veral as daar nie quick fixes of baie opsies is nie
Buigbaarheid – veral in die lyf, maar ook in reeds gemaakte planne en lank-na-uitgesiende verwagtinge
Gelatenheid – hoe gaan daai serenity prayer nou weer? God, grant me the serenity to accept the things I cannot change … – hoewel ek by Vriendin geleer het dapperheid is waarskynlik meer deurslaggewend as gelatenheid – of jy nou moet aanvaar of verander of aanpas of uithou of inhou of aanhou, sonder dapperheid is jy (met permissie gesê) in die voet geskiet.
Ek sien daar is ook ‘n 8ste eeuse weergawe van die serenity prayer met ‘n ekstra skeutjie humor by:
If there’s a remedy when trouble strikes,
What reason is there for dejection?
And if there is no help for it,
What use is there in being glum?
Gawe reis-raad – ook as mens ‘n Nuwe Jaar moet in. Maar as die odds teen jou oorweldigend lyk, ook makliker gesê, né? Dan het mens maar weer daai bietjie ekstra nodig.

Met die naderende Kerstyd dink ek altyd so aan Maria. Wonder ek weer: Hoe het sy dinge hanteer? Sy kon sekerlik ook doen met ‘n bietjie ekstra – veral kindness. (Ag, hoekom het ons nie ‘n lekker Afrikaanse woord vir kindness nie? Omgee klink darem so pligstatig. Nes compassion en caring, het kindness maar net nie ‘n goeie swaargewig/hart-oplig Afrikaanse eweknie nie.) Ek reken Maria sou kon doen met ‘n bietjie ekstra van al drie – veral wat oornag- en kraam-gerief betref. En hoe mooi en onverwags kry sy toe die nodige ekstras – by engele en herders en van-ver-af-wyses.
Ag, en dan wonder ek altyd so oor Maria met die vlug Egipte toe – op die gevaarlike pad deur ‘n onherbergsame woestyn-streek wat Kaokoland soos ‘n reënwoud laat lyk: Met hoeveel swaard-deur-die-siel angs hulle ook al daai reis aangepak het, ten minste was háár kind lewendig – al die ander seuntjies van sy ouderdom is uitgemoor. Ek wonder hoe het sy dít uitgehou? Die ander Ma’s se leë arms en oë!
En ek hersien ook weer hierdie waarheid: Selfs al is jy op reis met die Seun van God, vrywaar dit jou nie van ‘n wond nie.
En toe, op vlug met dié pyn, is daar nie meer die broodnodige ekstras van herder-lof en wyse man-geskenke nie. Was dit toe vir haar genoeg om die vleesgeworde Woord op haar skoot vas te hou? Sy warm troos teen haar lyf te voel?
En jy? Nou? Hier aan die einde van die 2014de jaar van onse Here?
Hoe help dit jou – die wete, die troos: Hy het mens geword en tussen ons kom bly?

DANKIE vir jou saamreis hierdie jaar – per epos, per optrede, per boek, per CD, per wat ook al. Ek het die ekstras van jou geselskap, jou kind and caring company, geniet en baie waardeer!

My kers-geskenk-gebed-wens vir jou is: Al die ekstra wat jy nodig het:
Genade, geduld, energie, lewenslus, vreugde, vervulling, vooruitsigte …
Ek glo die Meelewende Algenoegsame is God genoeg en mens genoeg om dit vir jou te kan gee!
Liefdegroete,
Annalise Wiid

‘n betowerende brief en ‘n deurdrenkte dankie

November 26, 2014

My vorige brief was ‘n vinnige Hallo-en-Koebaai voor ek Afrika se verruklikheid ingevaar het. Nou hoef ek dit nie eens te sê nie – dit is voor die hand liggend en vanselfsprekend: Die trip was WONDERLIK – ‘n onvergeetlike, betowerende ervaring-brief!!!

Ons dae het (meesal) die tydsame, ritmiese gang van ‘n kameelperd se wieg-stap-deur-die-veld aangeneem. En ons tot ‘n diep siel-vrede gesus. Elke sonsopkoms en sonsondergang was asembenemend! Ons het klokslag, sommer nog in ons pajamas, na ons kameras gegryp en derduisende foto’s geneem. Ons het raak-afstand van ‘n luiperd gestaan met hoendervleis tot onder ons voetsole. Olifante het op ons drumpel kom drink – so naby dat jy hulle ooghare kan tel – sonder ‘n draad of ‘n heining wat ons uitsig versper. Ons het in die Kavango se koel, diepblou, sterk-stroom water geswem! Meters van die krokodille en seekoeie af – maar darem in ‘n draad hok, soos wanneer jy saam met die haaie duik.

Ons het in die ope lug onder ‘n boom gestort met eerste lig en in die soel aande onder die sterre. Bosveldpapegaaie, Katlagters, geselserige Geelborswillies, Rooikeel Byevreters en Blouapies was ons bure. Die Chobe en Kavango riviere; die Victoria Valle en die Okavango Delta was ons uitsig. Ons het diep wit, sagte sandpaaie en opwindende rooiduinpaaie en hardegrondpaaie en teerpaaie en oorgrenspaaie gery – 6 600 km daarvan en nie met ‘n enkele papwiel of vassit gesukkel nie.

Volgende keer vertel ek jou hoe ons deur dit alles eintlik op reis was met ‘n wond …

Maar vir nou verlustig ons ons eers net in die idilliese.

Kyk het hieronder – die lieflike gedig-brief wat ek kry ná ek die Geur van Christus kamp vir Pierre van Ryneveld se vroue aangebied het. Een van die vroue wat daar was, skryf agterna vir Heléne, die organiseerder:
My skryftalent is strate ver van Annalise s’n en poësie glad nie my forté, maar ek het Sondagmiddag so vol geïnspireerde energie gevoel, dat hierdie gediggie sommer net in my kop opgekom het om vir julle en haar dankie te sê vir ‘n “indulgent”, inspirerende en mag ek so dramaties wees om te sê: onvergeetlike vroue-naweek!
-‘n Deurdrenkte Dankie-

So perfek en halfpad pasella beland ek vir die eerste keer op die vrouekamp
Lyf en siel moeg geploeter, onseker
Met ‘n klein opgewondenheid in ‘n vuurtjie wat baie laag brand
vertel ek myself die Here beplan vir my niks beter

“Die Geur van Christus” is die tema,
Genoeg om my nuuskierig te laat kriewel,
Maar ook om skepties te dink, kom ons kyk ma’
..enige strooihalm sal doen, vir my “dilapidated” driewiel

Op ‘n rustige bosveld-surprise sommer net hier naby rond
kom ‘n beautiful bouquet van Marta’s en Maria’s saam,
Oud, jonk, lank, kort, skraal of voluptuously gesond
Party versadig, toekomsgerig en “smile” oppie mond
Ander effe stukkend, broos, uitgerafel en verdwaal
Siende blind en sukkelend, baggage-slepend saam

Met Annalise se “Kom Haal My” en “What a friend you turned out to be””
word ‘n spul geure so eensklaps losgelaat…
skakel die Heilige Gees ons almal so een vir een aan
Trane die vloei, party ken-in-die bors skaam, ander deurdrenk onbeskaamd

Met elke versadigende woord
Met elke melankoliese melodie
Met ou en nuwe vriende en sonnige samesyn
Beweeg ons almal nader aan mekaar, en begin ons liggies vir Jesus skyn

Diep en opreg dankie, Annalise, vir die ontmoeting met “The Wonders of His Person”
Dankie vir die unieke en anderste herinnering aan Sy blootgestelde beskikbaarheid
Dankie dat ons elkeen ons “stoppie-bus” poelietjie kon ontdek
Dankie vir Ps 23, eenvoudig, maar spectacularly nuut oopgevlek

Ek bid dat ons elkeen vir die res van ons reis
Sal ophou om te probeer “copy and paste”,
En eerder vandag nog Jesus in ons self raak sal LEEF
Om vir ander te kan wees;
Sensuele Sout
Lieflike Lig
Welriekende Wierook
en ‘n Betowerende Brief

‘n Diep en Deurdrenkte dankie

-Michelle-
Sterkte en woema en nog vir oulaas ‘n bietjie sports – dit wens ek jou toe vir die laaste skof van hierdie jaar …

Groete,
Annalise Wiid

Hallo en Koebaai

September 17, 2014

Hallo,

O, jy moet sien hoe lyk dit nou hier by my: Daar lê ‘n oop tas op die bed – ‘n KLEIN tassie, want ek moet LIG pak, daar’s min plek in die voertuig! Rondom die tassie lê dit besaai van klere – kort broeke, ligte hempies, plakkies, swembroek, sonbril, kamera met verskeie geheue kaarte … Op die kombuis toonbank staan piekniek goed, peuselgoed, wyn en water langs die Leatherman, taai tape, Sunlight seep, Newman se voël-boek en die verkyker. In die noodhulp kissie is pyn-, maag-, naar- en malaria pille en pleisters. Reg geraai, ek pak nie vir ‘n gewone optree-trippie nie, ek pak vir Afrika!

Gone Fishing

 

Koebaai werk, hallo vakansie! Vir die komende 3 weke, van 22 September tot 12 Oktober is ek LAND UIT – sonder sel of sein en dus ONBEREIKBAAR en VAN DIE LUG AF. Jy sal my net kan kry as jy ‘n soekgeselskap stuur op die spoor van die 4×4’s met die vyf vrolike mense – iewers Noord van Oos en Wes van Suid tussen die olifante en die water en die kremetarte en die sand …  🙂
Ek ontvang dus eers weer eposse (en navrae en bestellings en besprekings en skenkings en erflatings en diamante en Switserse sjokolade ) NA 12 Oktober.

Re-laas:  Oor die afgelope klomp optredes kan ek boeke vol skryf! Miskien meer daaroor in ‘n volgende brief, of dalk in ‘n LiG rubriek. Vir nou volstaan ek hiermee: Ek is geskok, ontroer, uitgedaag, teleurgestel, bemoedig, bedroef, bederf en begeester. En nog meer!

Koebaai is net lekker as mens met vakansie gaan. En selfs dan los mens jou geliefdes swaar. In die afgelope weke en maande moes van my vriende egter finaal afskeid neem van hulle lewensmaats, kinders, ouers. En voetjie vir voetjie leer vorentoe leef in die ontsaglike leemtes wat dit laat. Dis ‘n ander storie.

Susan Murray, wie se man Henry hierdie week op Morgenster in Zimbabwe begrawe is, het min moed gehad om terug te gaan na hulle verlate huis, waar sy nou hulle leeftyd saam alleen moet gaan oppak. Haar dogter beskryf hulle aankoms by die huis so mooi op Facebook:

We were met in whispered embrace by the warm compassion of a few ladies and Dr Rutoro, my Father’s soul friend of 14 years. In the dark we walked through the garden and as we rounded the corner of the house our spirits were jolted by the softest, gentlest Shona song. Harmonies rising like incense to the heavens. Healing balm to our wounded hearts.
About 40 community members sat quietly on the grass in the darkness with only their soothing song to reveal their presence.
A few introductions, a few prayers and we were taken inside the home … to share an abundant meal prepared for us with so much love.
What a soft, warm landing that wrapped our pain in love and tender compassion.
Our brothers and sisters have received us home, welcomed us with care and the love of the Lord.

En so word die ondraaglike toe effe draaglik gemaak. Pyn toegedraai in liefde en omgee.
Dalk koes jy ook tans vir koebaai se snykant?
Mag iemand dan naby wees om jou op te vang en toe te draai …

Tot ons volgende “hallo”, leef ligvoets, trap fyn en kyk mooi,
Annalise

ons Rustelose Wind-God

Augustus 5, 2014

Hallo,
Elke jaar, as Augustus ons tref – die maand van rustelose wind – dink ek aan Lucas Maree se woorde:
Augustus se winde wat troosteloos maal, het die lente dalk iewers gaan haal.

Vanoggend struikel ek per toeval oor NP van Wyk Louw se gedig “Profeet”. Dit ruk my hart soos ‘n dwarswind rond. ‘n Worstel-gedig. Die Profeet in ‘n soekende, verwytende, verlangende gesprek met God. Nee, nie gesprek nie, klag. En tog ook nie net klag nie. Terselfdertyd, op ‘n vreemde manier, ook verwondering en verblinding en troos.
Ek haal vir jou brokke daaruit aan. Lukraak, soos dwarrel papiere in die Suid-Oos:

U is die Rustelose, U is die wind
wat warrelend oor die vlamwit vlaktes waai
van die heelal, dat die blink stof van sterre staan
U is begeerte, en pyn, en ‘n verlange,
en het ons hart in so ‘n drif gemaak
dat nêrens rus vir ons bestaan
En tog het U ‘n rus beloof soos van diep kuile
onder die stormwind …

Maar die rus is nie noodwendig in stil kalmte en vredigheid nie. Hoe vreemd, dié God van ons, wat – juis wanneer mens “genadeloos op jou knieë neergeslaan word, in ‘n donker hoop gehurk” – jou nie noodwendig op die “hoë sneeukop van genade” ontmoet nie.
Maar jou omtol en saamswaai, en met sy geweldige wind opeis:
‘n ander genade …

 

Re-laas:   Die show wat ek saam met Elise Bosch gedoen het, in Pretoria en Wellington, was WONDERLIK! ‘n Regte emosionele roller coaster wat mens uit die maag uit laat lag en jou uit jou diepste derms laat kreun – hoe dan nou anders met Hillbrow en kanker as die temas!? Wat ‘n fenominale mens is Elise nie. Soveel liefde in haar hart! En hoe bevoorreg is ek elke keer wanneer ek blootgestel word aan realiteite anders as my eie – wat my horisonne verbreed, my sekerhede uitskud, my begrip uitdaag en my omgee stretch …

Soos ook met die Wel-wees in die Werkplek-dag, waar ek ‘n groep kleuterskool onderwysers van Badisa moes “toerus” en inspireer. Sterk, kleurryke, deurdruk-vroue! Wat my (en mekaar) eindeloos verryk het met hulle leef-en-glo-ervarings.

Ek kon ook baie lekker saam-kamp met die vroue van Windhoek Eros gemeente. En kerk saam met Somerset-Wes Moedergemeente. En ek kon interessante stories versamel wat tot LiG rubrieke en Kerkbode artikels verwerk is en binne die volgende maande gepubliseer word.

En nou begin ‘n roller coaster van ‘n ander aard: Vanderkloof/Petrusville, Oos-London, Stutterheim, Richardsbaai, Bellville, Rawsonville, Verwoerdpark, Nelspruit, Vanderbijlpark …

 

Veral in hierdie jaar, waarin dit met my baie goed gaan, maar die mense naby my dikwels so vreeslik swaar kry, probeer ek God meermale raakvang in ‘n warrelwind. Van Wyk Louw se gedig help my vandag (help jou dalk ook) daarmee:

Verloën my nie o God, verloën my nie,
ek weet U is geen rusplek en geen troos;

U skuim in ons op soos die see se water
U stort in ons af soos die reën wat val
en stroom van alle kante soos die wind

ek moet … daeliks weer my vlamme-waarheid gryp –

al my onrus is die saamswaai met
u magtige wind –

en Heer, ek staan weer sterk
in die andere genade wat U gee.

Om saam te swaai en sterk te staan … vlamme-waarheid verblindend, ver-wond-erd, voor oog …
Om te (ver)wag die Lente gaan uit ‘n troostelose wind gebore word …

Mag jy oorgenoeg genade kry,
Annalise

hemelvaart … helingvaart … hemelwaarts …

Mei 29, 2014

Hemelvaart … helingvaart … hemelwaarts …

Oor hierdie drie woorde praat ons vanaand by die kerk. Eintlik vandag heeldag, want ons het besluit om deurlopend – van 6vm tot 6nm – óf om ‘n koppie koffie, óf in die kapel doelbewus op Jesus se misterieuse en mindboggling “huistoegaan” te fokus …

Huis toe. As die huis hemel(s) is, bly dit een van die lekkerste lekkers om huis toe te gaan. Selfs al kom jy ook van ‘n lekker plek af terug. Soos gister: Omdat ek die afgelope naweek in die Suid-Kaap gewerk het, kon ek ‘n paar dae op Buffelsbaai gaan bly. Een van my hartsplekke op hierdie aarde. Snags slaap mens met wydoop vensters sodat jy die branders op die rotse kan hoor raas. En die maan kan sien verbysuiker dagbreek toe. Bedags gaan stap jy by die klipstapels, waar die Swarttobies tussen groenblou poele broei, en seemeeue laag sweef oor die sand. Waar jy af en toe ‘n heel skulp kan optel tussen die talle skerwe. Waar jy vistermanne sien silhoeëtstaan teen die einder en jou hart voel terugkeer in jou bors.

En tóg, so lekker soos dit ook al daar was, toe ek gisteraand by my eie deur instap, kom ek hemels tuis!

Relaas:  Sedert ek laas geskryf het, het ek ‘n Driveway Divatjie show in PE gedoen, Lééf se retreat in Gauteng gaan aanbied – hierdie keer was dit oor gebed, met die tema “In die tuin, wanneer die aandwind waai …” En ek het gaan sing by ‘n Bybelskool se diploma plegtigheid in George. En elke geleentheid was iets wat ek nog laaaaaank sal onthou. Jitte, daar is darem baie wonderlike mense in hierdie land van ons! Ek het ook, buite George, die Diepkloof Kleuterskool besoek en oor hulle ‘n artikel geskryf vir Kerkbode – hou dop, dit verskyn binnekort en dis ‘n hart-warmmaak storie!
Die volgende groot (en baie lekker) ding wat voor die deur lê is my en Elise Bosch se show by Atterbury Teater op 20 Junie:
Kyk Haar Oë, Hoor Haar Hart.

KykHaarOeHoorHaarHart postertjie

(meer inligting op my Facebookblad of by Atterbury Teater – kaartjies by Computicket)

 

Hemelvaart … helingvaart … hemelwaarts … huis toe.
Ek wonder tot watter mate Jesus se Hemelvaart vandag jou lewe kleur? Vir baie mense het hemel “pie in the sky” geword – spookasem nietig en siekmaak soet. Of is dit ‘n eendag-woord, iewers (hopelik baie ver) in die toekoms. Of dra dit gewoon net geen betekenis of relevansie meer nie, want die hier en nou is te dwingend, te oorheersend.

Maar as Hemel huis is? En volkome heel-wees? En happy? En nader en werkliker en vryer en beter as wat ons dalk dink?
Hoe absoluut heerlik moes Sy tuiskoms dan nie vir Jesus gewees het nie?
En hoe vol hoop en energie en heler-word ons eie rit huis toe dan?
En vir my terminale vriende, wie se eie hemelvaart nou so naby is, hoe vol belofte en troos!!

Mag God self – sy goedheid en genade, en sy onweerstaanbare liefde – jou trekpleister wees Huis toe …
Annalise