makie saak hoe die wind waai nie!

Januarie 19, 2012

“Sommige dae is daar genade”, sê Oom Muller Botha, “ander dae is daar dubbeld genade.” Ek leer by hom. Om so deur ‘n genade-bril te kyk, vra ‘n harts-ingesteldheid wat, soos ‘n sonneblom, altyd dankbaar en instinktief jou kop na die Lig toe draai. “Jesus Christ, Inner Light, don’t let my darkness speak to me.”
Kort na Nuwejaar gaan kuier ons een oggend by Oom Muller en Tannie Retha. Sit in hulle sonstoepie, waar die dwergdoringboompie groei, en praat en lag en bid – alles in een onafgebroke, spontane, gemaklik-kabbelende stroom … Later ry ons daar weg met handevol steggies om te gaan plant as ‘n vooruitsig op die groei wat die Nuwe Jaar gaan bring. Groei! – tuinlangs, breinlangs, werklangs, lewelangs, lyflangs (!) en sommer oralslangs. En ek kry ook nog ‘n pragtige potplantjie present; een met klokkiesblomme wat gelyktydig pienk en geel en oranje bloos, soos ‘n sononder oor die see. Vir hom gaan ek koester en oppiep tot hy ‘n bos word en kleintjies kry!
Maar die kosbaaste is dit: Ek ry daar weg met ‘n saadjie wat, sommerso terloops tydens die gesprek, in my dieptes geplant is:
Tannie Retha vertel dat sy iewers gelees het van die man wat vir hom ‘n weerhaan op sy dak aangebring het. En onderaan die haan het hy ‘n bordjie vasgekap met hierdie woorde: God is love.
“Hoekom doen jy dit?”, vra sy buurman. “To remind me that God is love”, antwoord hy, “no matter which way the wind blows.”
Ek wil dit onthou as die Suid-oos ruk en die Noord-wes pluk; ook as die Weswind, onvoorspelbaar, ontydig en nukkerig, onverwags uit die Ooste kom; as die wind asemloos en onbehulpsaam, futloos en uitsigloos gaan lê en my seile laat slaphang; of as die warrelwinde my speels en plesierig en roekeloos gelukkig van my voete af dans … Ek wil dit onthou as ek rondomtalie van lekkerte en my verkneukel in die soetigheid van tevredenheid. Ek wil dit ook onthou as die politiek my omkrap en allerlei moddergooi-argumente (selfs kerklangs!) onverkwiklik word. As my geld skraps is en my moed min. As geliefdes ver is en vrees naby.
God is liefde. Ek wil dit voor oë hou. Ek wil dit in my diepste hart vasvasvashou.
En doelbewus soek na Sy soort kreatiewe maniere van liefhê, no matter which way the wind blows !

Want liefde – dis al waaroor dit gaan!

Re-laas:  Tienduisend dankies vir al julle omgee toe ek in November geopereer is! Dit was maar bietjie van ‘n riller. (Jy kan die komiese kant daarvan lees in my rubriek in die huidige uitgawe van LIG – jauarie 2012.) Dit gaan egter nou al baie beter en verbeter steeds … Ek beplan om in hierdie nuwe jaar te probeer om ‘n bietjie matiger te wees met die optree en rondreis en om meer van ‘n balans te probeer kry tussen sing- en skryfwerk. Hoe, weet ek nog nie – daar is altyd enorm baie om te doen!

Ek wonder hoe lyk jou planne en vooruitsigte vir die jaar? Jou wense? En jou moed?  “Jesus Christ, Inner Light …”
Mag jy 2012 tegemoet gaan met ‘n hart-sekerte: No matter which way the wind blows, daar sal genade wees. En waar nodig soms, selfs dubbeld!
En mag jy dit toenemend ook so uitstort op jou medemens …
Dankie vir elke keer wat ek al aan die ontvangkant van jou liefde en genade was!!
Groete,
Annalise Wiid

anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

toegedraai in doeke

December 14, 2011

God moes versorg word. Hy, die Onafhanklike, die Selfgenoegsame. Die Een van wie daar gesê word: “Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
Hy moes versorg word. Na omgesien word. Opgepas word. Gevoed, gewas, gesus en gedra word. Toegedraai in doeke. Só sorg-behoeftig mens het Hy geword.
Blootgestel aan, uitgelewer aan, ontvanklik vir die genadige versorging van Sy mede-mense.
Híéroor dink ek hierdie Kersfees.

En hieroor: hoe een mens aan ‘n ander mens doodgewone menslikheid en buitengewone liefde kan bewys deur te versorg.
Hetsy deur toe te draai in doeke van deernis, dignity en waardering. En sodoende ‘n medemens se lewe te beskerm.
Of om uit stremmende doeke los te draai – soos Lasarus se vriende vir hom moes doen. En sodoende ‘n medemens se lewe te vier!

Ons het mekaar nodig. Ons het God nodig. Vir, in, deur alles.
BAIE, BAIE DANKIE, my liewe Mede-Mens vir die toedraaidoek van jou ondersteuning die afgelope jaar.
Mag jy en joune hierdie Kersfees en in 2012 die lewe vier …!!

Annalise Wiid

dans dan …!

Oktober 20, 2011

Hallo!

Gisteroggend skryf Philip Kotzé op Facebook: “Sing as jy praat en dans as jy loop.” En daarmee, met die “dans”-woord, sing hy my onmiddellik en onwillkeurig terug in laas week se sinode saal. Een van die songs wat by die opening gebruik is, was Sydney Carter se Lord of the Dance. Nogal vir my ‘n onverwagse, verrassende keuse. En telkens kon mens die meesleurende refrein daarvan deur die sinode-week hoor eggo. Die lied het duidelik die mense aangegryp.

Onthou jy die song? Ken jy dit? Laurika Rauch het dit ook opgeneem. Dit vertel Jesus se verhaal op ‘n Keltiese ritme in ‘n liedjie-neutedoppie. Met ‘n aansteeklike wysie wat vir dae lank deur ‘n mens se kop bly draai. As jy wil kan jy gaan luister hoe Carter self dit sing: http://www.lyricsmode.com/lyrics/s/sydney_carter/lord_of_the_dance.html

Dance, dance, wherever you may be
I am the lord of the dance, said he
And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

Dance, dance, wherever you may be … Wat sou die “dans” wees waarvoor ons so hartlik genooi word – almal van ons, waar ons ookal is? Sou dit die lewe in die algemeen wees, met sy wisselende en komplekse ritmes? Dalk meer spesifiek die intieme pas de deux van ons naaste en belangrikste verhoudings? Of dalk die uitdagende solo-dans van volledig jouself wees – van vry en vreesloos wees wie net jy kan wees? Is dit dalk die fynvoet choreografie van geloof in ‘n wêreld vol pyn en vrae? Of die wals van genade – met sy bedrieglik eenvoudige drie-slag maat van geloof, hoop en liefde?

Dance, dance, wherever you may be

Ek lees dat Sydney Carter die liriek van Lord of the Dance twee jaar na my geboorte geskryf het – so dis nou al ‘n middeljarige songkie :-) . Hy het egter die wysie van ‘n veel ouer lied gebruik – ‘n lied met, vir my, selfs meer aangrypende woorde: Simple Gifts.

‘Tis the gift to be simple, ’tis the gift to be free,
‘Tis the gift to come down where we ought to be,
And when we find ourselves in the place just right,
It will be in the valley of love and delight.

When true simplicity is gained,
to bow and to bend, we will not be ashamed
To turn, turn, will be our delight,
‘Til by turning, turning, we come round right.

And I lead you all … Wat ‘n gift ! Wat ‘n geskenk – om so vry te kan leef dat jy onbeskaamd kan buk en buig en kan draai. Want dít is wat elke denkbare vorm van die lewensdans vra: dat jy met soepelheid moet kan turn, turn, turn … Soms net op daardie een plek waar jou siel nou is; soms al hoe wyer en wyer uit … ‘n toekoms in!

And I lead you all in the dance … Elkeen se dans is sy eie. Vir Sydney Carter self, was die dans sonder vaste patroon, sonder die sekerheid van presies vooraf uitgewerkte, deeglik ingeoefende passies. Sy gedig, Interview, maak dit duidelik:

“So what do you believe in?
Nothing fixed or final,
all the while I
travel a miracle. I doubt,
and yet
I walk upon the water

And I lead you all, wherever you may be
And I lead you all in the dance, said he

Om in ‘n dans gelei te word, vra vertroue, ‘n instap in oop arms in, ‘n aandurf van die vloer, ‘n saamsmelt in ‘n gedeelde ervaring, saamluister na dieselfde musiek. Jy word doelbewus ‘n “ons” – in ‘n berekende aanbied en oorgawe van jou “ek”. En jy travel a miracle.

Wat hou dit vir jou in, nou?

Weet jy? Waag jy?

Wil jy?

I am the lord of the dance, said He

 

Annalise Wiid

0824563396

anniessong@absamail.co.za

www.annalisewiid.co.za

http://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

traais en braais

September 22, 2011

Hallo

Onthou jy daai landsvlag-sokkietjies wat ons oor ons tru-spieëltjies getrek het met die sokker wêreldbeker? Net vandag gaan ek my oorgeblewe ene soek en hom oor my petroltenkklappie trek. Vir die spangees – van die land en van die Bokke!   :-)
Hy lê daar iewers in die garage; ek moet hom net ‘n bietjie soek. Die ander ene – sy tweeling – lê iewers in die bosse langs die N2. My spoed en ‘n siedende Suid-oos se skuld. En hy’s seker nou al onherkenbaar verbleik en bevlek. Shame. Maar laat ons nie te lank en te diep daaroor dink nie. Kom ons steek liewer ‘n vuurtjie aan. En hou duimvas vir die Bokke en baie, deurslaggewende, drieë!!!

Ja, kom ons kry ‘n vuur aan die gang. Wingerdstompe as dit kan. Laat hy hoog vlam! En gooi die tjops dik van Oosie se braai speserye. Sy koljander is net reg – nie te min nie, nie te veel nie. Dan staan ons kringetjie in die rook en om die kole en praat kopstukke en lag … en los almal se probleme op, behalwe ons eie. Maar dié vergeet ons darem ten minste vir ‘n rukkie terwyl ons om ons vure fuif. En ons pak meesal ook ons uitdagings met ‘n bietjie meer moed aan ná die tydelike ontvlugting van so ‘n ou braaitjie. Viva die Braai, Viva! En hiephiephoera, my Bok en my Bra!! Want rugby doen dit ook vir ons: ons kan al ons frustrasies uitskree – op speler, op teenstander, op die domonnoselestiksieninge ref … en, ontlaai en ontspanne (hopelik nie ont-span nie), weer ligter voortgaan. Veral as ons ‘n traai of drie gekry het.  :-)

Terloops, ek skryf hierdie briefie terwyl ek met groot genot en groeiende simpatie kyk hoe ons Bokke die arme Namibië, soos my Velddrif-familie sê, pluiens speel!

Re-laas:   Ek het ge-try en ge-traai en ge-travel vir die beker! Was in Gauteng, Porterville, Hennenman, Uniondale, Piketberg, die lieflike Laeveld en Hekpoort.
Was ook onder die mes – vir ‘n senuwee-loslating aan my regterbeen. Dankie vir almal wat so sorgsaam navraag doen oor my welstand. Die pyn in my onderbeen is merkbaar beter, maar die operasie het nie verligting vir die bobeenpyn gebring nie. Daarvoor sal ‘n opvolg operasie waarskynlik later vanjaar nodig wees.

Nou lê die volgende skof van optredes eers voor:
Komende Sondag, 25 September, die oggend erediens by Somerset-Wes Moeder gemeente
Dan die Oktober vakansie se asemskeppie.
10 – 14 Oktober, die Algemene Sinode van die NG Kerk; waar ek op die kommunikasie taakspan is
15 Oktober, Laerskool Delville vroue tee
22 Oktober, Upington fondsinsameling vir Geopende Deure
28 – 30 Oktober, ‘n kamp saam met die vroue van Kuilsrivier-Suid

Komende Saterdag gedenk ons ons erfenis, terwyl ons braai dat die roke draai. So om die vuur raak ons gesprekke tog dikwels daaraan: ons erfenis – ons geskiedenis; ons ryk-geskakeerde land en mense, en ons politiek … Ook ons kinders se erfenis – ons land se toekoms. Elke af en toe bedink ek weer 2 Korintiërs 5: 18 se woorde: dat God “aan ons die bediening van die versoening toevertrou”. Toevertrou – die woord laat my sidder. Veral in die konteks van ons erfenis. Sidder van die gewig en verantwoordelikheid daarvan, maar sidder ook van die Goddelike vertroue en agting wat so waaghalsig en met verwagting in ons belê word …

Dít maak dat ek sal aanhou try vir daai traai!
Op Suid-Afrika – soos God ons sien …
Mag die aansteeklike vure van welwillendheid en gemoedelikheid hóóg brand,

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

mooiste mooiste mooi

Julie 29, 2011

Mooiste mooiste … Ek het hierdie week ‘n rubriek geskryf oor mooiste mooi dinge. Jy kan dit in Oktober se uitgawe van Lig lees … Kon aan soveel wondermooi dinge dink, dat daar nie plek in die rubriek se beperkte woordspasie was vir alles nie. Nou spoel dit maar oor in hierdie briefie:
In Cardiff se kunsmuseum hang een van Monet se waterlelie skilderye. Massief! Veel groter as wat jy jou dit voorstel uit kunsboek glans afdrukke. Enorm. Maklik twee by twee meter. En oorweldigend mooi! Só, dat ek, toe ek om die draai kom in die museum en myself onverwags daarin vasloop, onkeerbaar begin huil. Snak en snik gelyk. :-) Die lig, die kleur, die kwastekstuur, die gevoel wat dit in jou opwek, selfs die geur van water en groenigheid wat dit onwillekeurig in jou verbeelding loslaat – dit is die werk van ’n meester!
In ‘n omgewoelde week soos hierdie, waarin
• Ons vandag ons Mavis se twee-maande-te-vroeg-gebore babatjie vir die eerste keer kon huis toe bring – met ‘n beentjie vol verbande omdat die drupvloeistof in sy weefsel gegaan en septies geraak het – en ‘n diep lag-dimple in sy wang
• Ander mense se seunskind ontvoer en na twee dae weer gekry is – lewend, maar nie ongedeerd nie
• ‘n Begrafnis en ‘n verjaardag so kort na mekaar gevolg het dat hulle byna oor mekaar getuimel het
• ‘n Noorse “fundamentalistiese christen” beserk geraak en 76 mense afgemaai het, en
• Suid-Afrika beskryf is as “’n land wat soos ’n renoster op sy knieë sak en stadig omrol met die gieriges soos aasvoëls met hul duur jaggewere grynsend oor die karkas” – Charles Smit in die Volksblad,
in só ‘n week het ‘n mens al wat MOOI is lewensreddend nodig!

Re-laas: ‘n Verkwiklike paar weke van tuisbly lê agter my rug. Hoewel ek vooraf beplan het om vreeslik baie te skryf, en vooruit te beplan aan komende optredes se inhoud en reg te pak en wie weet wat nog, het ek gevind dat dit ook lewensnodig was om vir twee weke net te rus en my kop en gemoed leeg te maak van alles wat ongemerk plafonhoog daarin opgehoop het!
Nou is ek gereed vir:
29 – 31 Julie se vrouekamp saam met Lux Mundi gemeente van Pretoria
2 Augustus se klein operasie om ‘n vasgeknypte senuwee in my been los te sny
(miskien sal ek in die hersteltyd daarna kan inhaal op alles wat ek nie die afgelope weke gedoen gekry het nie ??)
14 Augustus se oggend erediens op Porterville ten bate van Huis Jabes vir mishandelde vroue
21 en 22 Augustus se mini-reeks by Hennenman se 3 NG gemeentes oor die lewe van Josua
23 Augustus se aand saam met my eie Helderberg gemeente se wyksleiers
24 Augustus se oggend optrede vir Badisa
26 – 28 Augustus se naweekkamp en oggend erediens saam met Uniondale gemeente en
31 Augustus tannie Bettie se verjaardagviering …!

Ek wens regtig ek was nie allergies vir opkikkers en steroids en allerlei wilde doepa-goed nie :-)
Ek sal maar, soos Audrey Blignaut, my doepa in die heerlike kleinste dingetjies vind.

Vir my is die broodkoek van die vreugde,
die kruik water van die skoonheid onder my oë
lewensnodig.
Ek moet vervoering vind in die lewe.
Ek moet die heerlikheid kan sien
wat daar in die kleinste dingetjies is…” Audrey Blignault

En tussen alles deur probeer onthou dat Dawid gesing het:
Neem my in beskerming, o God;
Ek soek skuiling by U.
U leer my hoe om te lewe.
Uit u hand kom net wat mooi is. – Psalm 16

Mooiloop,

Annalise Wiid

betekenis

April 1, 2011

Anderdag hoor ek van ‘n oom wat keer op keer weer vir sy vrou in die siekeboeg gaan kuier, al het sy Alzheimers en al ken sy hom lankal nie meer nie. Toe iemand vir hom vra: “Hoekom doen Oom nog die moeite – die Tannie weet tog nie meer wie Oom is nie?”, antwoord hy: “Maar ek weet nog wie sy is!”

So gaan sit ek ook nog soms by my Alzheimers vriendin in die siekeboeg. Meesal het haar leë oë nie meer die vaagste benul wie ek is nie. Maar ek weet nog wie sy is. Ek weet wie sy altyd sal wees, al steel die siekte haar tydelik. Ek weet hoe sy was. Ek ken haar: Die laggende een. Die liefdevolle. Die ruimhartige. Die bekwame. Die storieverteller met die skitteroë.
Daarom gaan sit ek by haar en hou haar hand vas en praat onbenullige, onsinnige nonsensies, of bly sommer net stil; want die sin tussen ons het verskuif en die klem val nou op onverwoordbare dinge soos aanraking en teenwoordigheid en bloot wees.

Tussen betekenis en beteken niks is daar bittermin verskil – twee skrale lettertjies. Is dit hoe ons kyk, hoe ons luister; hoe ons hoor en waarneem en inneem en ag slaan en waardeer; of lê dit, onafhanklik en diep, in intrinsieke waarde – wát bepaal die verskil tussen betekenis en beteken niks …?

Laat my dink aan die gelykenis van die saaier. Die saad is vol inhoud. Die grond waarop dit val bepaal of dit vrug dra, of nie; of die betekenis van die saad tot sy reg kom, of nie.
En ek onthou Anne Michaels se dogtertjie-herinnering aan haar pa:
“… planting rows of words in me that would grow for the rest of my life”.

Re-laas:   Ek het baie woord- en Woordsaadjies rondgestrooi sedert my vorige skryfie – was in Vryheid, Sutherland, Oudtshoorn, Albertinia en Oostersee;  en het, smaaklik en plesierig, saam met my pelle, ‘n 50-jaar oue bottel Port nekomgedraai vir my verjaardag in Knysna!

Nou lê April met al sy langnaweke voor. Dis my tuisblytyd: garage skoonmaak, kaste regpak, skryfwerk inhaal, inbox leegwerk, spertye voorspring en vriende kuier-tyd …
Ek onderbreek dit net vir 3 gigs:
16 April, ‘n oggendtee by Helderberg in Somerset-Wes; saam met Marida van Paradiso met haar asemrowende blomme. (Kom luister, my dorpsgenote, ek was laaaaanklaas hier!! Kaartjies by Helderberg se kerkkantoor – ten bate van Alta Foster se Pêrelprojek vir die gemeenskap)
22 April, Goeie Vrydag, by Mosaïek Gemeente in Johannesburg – 2 vertonings – 12:30 en 16:00
Elke vertoning se tema is: Lig uit Lig – met die oog (en hart) op die onuitputbare wonder van Pase!!

• In April verskyn 4 Bybelstudies wat ek rondom die Pase geskryf het op www.vroueweskaap.co.za

Mag jy ook, as jy Jesus se dood en opstanding hierdie jaar gedenk (dalk vir die soveelste keer), opnuut jou hande saamslaan oor Waarheid wat veel groter as woorde is; en oor die Woord wat telkens weer die karige grond van ons klein begrip (wanbegrip, onbegrip) liefdevol met betekenis kom bevrug!  Mag jy veral onthou dat Jesus, toe Hy die laaste maal met sy dissipels aan tafel was, gesê het: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” Lukas 22: 15, 16

Truth grows gradually in us, like a musician who plays a piece again and again until suddenly he hears it for the first time.” Anne Michaels

Loop lig, kyk mooi en koester …

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

http://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

en god as hy bestaan                                                                            

neem haar na die soet soet dal
van warm skaduwees van malse gras waar
die sleutel in haar hand op alle deure pas
die paar gebare om haar skielik duisend
vlerke kry skitterend met betekenis verbind
waar sy kan sluk van verbasing alles

met ligte tred kan betree haar lyf
soos altyd met oorgawe elke haar
getel en op sy plek [sy weet, wees
haar daarom ook nou seer welgesind
en druk haar vas soos ‘n ma haar nuwe kind]
laat haar toe om tog in u son
te lê net ‘n paar uur per dag tussen elf
en twee gun haar ‘n huis om te bedryf
‘n oond waarin sy kan bak en brou
die tafel keurige gedek servette fyn gevou
kristal waaruit die wyn sommerso vanself
sal afloop in haar keel en laat haar onbesonne
lag, o Here, laat haar weer lag en as dit by u mag
ook onbedaarlik huil
                                                                                                                                                               maar op my knieë veral
                                                                                                        o God, veral: laat woorde vir haar sin maak, oweral

 

vir jou, my vrou; 28/29 junie, 2007; Fanie Olivier

lavender

December 21, 2010

Vanoggend, vroegerig – nog voor die son so skreiend geniepsig geraak het en terwyl ‘n siedende suidoos reeds wolk en water genadeloos rondpluk – het ek die lavenderbosse hier onder my venster gesnoei. Ja, ek weet die suiwer-Afrikaanses praat van laventelbosse, maar laventel ruik mos nie soos lavender nie. :-)  Laventel ruik soos oumenssent en kantsakdoekies. Lavender ruik soos dagbreek se klammigheid, wanneer ‘n mens gemoedelik gelok word om moontlikhede te omarm. Laventel ruik soos donker gange en benoude kamers. Lavender ruik soos uitbundige ooptes en landerye en reise oor grense … Lavender is skemeraand se tuintroos as die dag uitgeput op die horison neersak. Lavender ruik, koesterend, soos wintertyd se warmbad. Lavender is, kragtig, pure uitgelate somersgeit: bye en skoenlappers en wieg-in-die-wind kleur!

Terwyl ek die jaar se oordadige groei wegsnoei, kom lê die gelaaide geur op my vel, in my klere, in my gemoed … En die bos wat onder my snoeiskêrhande deurloop, word ‘n metafoor vir die jaar wat agter my rug lê. Ek knip die uitgeblomde takke af: plekke waar ek was, waar my spoor dalk nog lê, dalk vergeet al doodgewaai is … mense by wie ek aangedoen het, oorgebly het, ingekruip het, verbygesnel het … ervarings wat my siel gevorm, gevoed, en soms geskend het … baie vreugdes en verwonderings, ‘n paar vasklouerige viesgeite …
Knip af, hulle tyd is verby! Sny skoon, dis tyd om plek te maak vir nuwe groei!

Nie dat ek alles sommer net summier weggooi nie. Daarvoor is ek hopeloos te veel van ‘n bêremens. Op my eetkamertafel staan nou ‘n groot, geurige bos herinneringe waarby ek vir dae lank nog met genot gaan aansit. En in my hart maak ek elkeen van júlle, wat my so lojaal ondersteun, in ‘n bêrebossie bymekaar – veral dié by wie ek in 2010 opgetree het, wat my met soveel warmte en liefde ontvang het, met wie ek die wonder van God-met-ons kon deel en beleef!
Baie, baie dankie vir julle ryk geur in my lewe. Ek is daarvan deurdrenk!

As ek jou vandag ‘n Geseënde Kerstyd toewens, bid ek dat Jesus-by-jou jou sal skoonsnoei van hierdie jaar se oorgroei – goed en sleg; dat Hy jou hart sal lig maak met sy vrede en ‘n diep, onverdunde blydskap.
As ek jou ‘n Voorspoedige Nuwejaar toewens, bid ek dat jy bewus sal bly van Jesus-by-jou … soos ‘n mens bewus bly van die onmiskenbaarheid, die sagte behaaglikheid van lavender.
Ek kan dit nie in mooier woorde sê as wat vanoggend op die NG Kerk se webblad staan nie:
dat jy op ’n verrassende manier in 2011 sal ontdek hoe wonderlik jy vir God is
dat jy op allerhande maniere sal insien dat jy iemand besonders is – met menswaardigheid
dat jy verwonderd sal wees dat God aan jou daardie waarde toeken (maak nie saak wat ander sê/doen/dink nie) en
dat jy met hierdie God-waardigheid met ’n diep selfwaarde en selfvertroue sal leef
dat dit jou in alle omstandighede sal dra en ondersteun
dat dit alles jou sal motiveer om met nadruk en oorgawe gereeld die ou Taize-gebed te bid:
“Jesus Christ, Inner Light, don’t let my darkness speak to me”

Ns. MEDIANUUS:
• Ek was onlangs ’n gas op die program Life 24/7 wat Sondagoggende om 08:30 op TV 2 gebeeldsend word. Hier is die Youtube weergawe as jy dalk wil gaan kyk: http://www.youtube.com/watch?v=KN6J98AnEHU

• EK het ook onlangs die aandoordenkings op RSG aangebied. Jy kan daarna luister op RSG se webwerf by KLANK, AANDMEDITASIE, 15 – 20 November 2010.

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

http://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

anders

November 8, 2010

Die Kaap is grys vandag; maar nie lelik nie. Inteendeel! Sy het mos die vermoë om grys tot verrukking te omskep – ‘n simfonie van skakerings: duifgrys, blougrys, woedegrys en wind. Wolke, klowe, traangrys en klank … Stuwend. Stuitig. Buierig. Boom en blaar word opgeraap en lustig bespeel. Die see word haar dansvloer. Sy tango hom wild en onstuimig. Haar kop uitdagend, haar oë vuur. Net om hom, sekondes later, tot stilte te streel met ‘n reënsilwer laken.

Elders skyn die son. Stapel donderwolkverdiepings die bloutes in. Of lê die ooptes onversteurbaar en gelykmatig in die geduldige arms van die tyd. Elke plek en seisoen bekoor op sy eie manier. Soos mense.

Re-laas: Ek is die afgelope weke verruk en bekoor deur mense van regoor ons land. Daar was ‘n Lééf retreat net noord van Pretoria, met mense van heinde en verre wat, vir ‘n naweek lank, gemeensaam om ‘n tafel kom sit het om te eet en drink van die Goeie. Ons is almal die Sondag gees-versadig huis toe. Daar was ‘n ewe aangename Bybelse ete een aand in Gordonsbaai – met opdress en baie lag en lensiesop en lamsbredie en Skewe Snytjies Brood. Daar was ook ‘n lekker Lig-dag op Loxton. Verkwiklik en móói en gasvry en lank-nog-in-die-hart-dra-spesiaal!
(Terloops, Lig het ook laasweek nuwe foto’s laat neem van die rubriekskrywers – myne is sommer al op facebook, oor dit so ‘n lekker shoot was. :-) )

En nou lê ‘n warrelwindweek voor:
Saterdag, 6 November: Heilbron. ‘n Dag met Lig
Dinsdag, 9 November: Stilbaai. Fondsinsameling vir die Vervolgde Kerk – Geopende Deure
Woensdag, 10 November: Mosselbaai. Fondsinsameling vir die Vervolgde Kerk – Geopende Deure
Saterdag, 13 November: Bloemfontein. Oggend tee vir vroue by Dr Visser Laerskool in Estoire
Laat ek my tas loop pak!  :-)

Vandag waai die Kaap my hare en my hart met mening deurmekaar. Sy roep my om elke skakering van hierdie dag onverskrokke te lééf!
Sy sing vir my Koos van der Merwe se rykgeskakeerde woorde: ( die dorp potensiaal – ‘n storie oor anders dink)
“Baie maak hulle oë oop om te sien wat voor hulle is.
Min maak hulle oë toe om verder te sien.”

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

http://opreisdeurdielewe.wordpress.com/

woord-loos

September 16, 2010

ek was lank stil, ek weet. het niks gehad om te sê nie. en my pa het my kleintyd al geleer: dít is die heel beste tyd om jou mond te hou. nie dat daar nie hoevele dinge, hóévele wonderlike moeite-werd-dinge, gebeur het sedert ek laas geskryf het nie. my praatlus en skryflus was net vir ‘n rukkie weg – soos winterboomblare.

stilbly is soms baie goed. dit leer ek opnuut, en met intense verkneukeling, toe ‘n onverwagse stukkie wysheid anderdag uit die kleintjie se mond val. sy kuier hier en om een of ander rede begin praat ons oor hoofpyn. “you know what happens when you have a head ache?”, vra sy met ‘n uitdrukking van oerwysheid op die 5-jaar-oud gesiggie. “all the niceness inside of you turns upside down in your mouth and only the ugliness comes out.” slaan sy my vir ‘n stomme ses! :-) waar kry sy soveel insig? ongetwyfeld gebeur dit so. ding is net: dis nie noodwendig net kopseer wat die onderstebodraai veroorsaak nie. daar’s mos heelparty ander oorsake ook
miskien was my stilbly ‘n onwillekeurige reaksie op die intense rumoer van die sokker vuvuzelas?   :-)

wanneer daar nie woorde is nie … waaroor jy stilbly sê dikwels meer van jou as waaroor jy praat. stef bos se lied oor sy sterwende ma is in my siel ingegraveer: het gevoel is te groot voor woorde, sing hy. cussons dig weer: ek het my hoof in sy hals gelê want wat kon ek sê? dít in dieselfde gedig waarin sy praat van die donker, donker swye

dankietog vir lente. wat met genadige reëlmaat altyd weer ons winter-swyes of ons winterwoorde kom óópleef – skielik, verwag maar steeds verrassend, bot daar op ‘n dag weer nuwe warmte, kom daar nuwe kleur uit die vaaltes te voorskyn.

re-laas:  o, soveel, soveel het gebeur. ek het gaan sing en storie in jeffreysbaai, bloemfontein, vanrhynsdorp, wortelgat, randburg, mokopane, centurion, hennenman, tulbagh, milnerton, en laasnaweek, onoortreflik lekker, in oudtshoorn!
komende naweek is ek, saterdagoggend by edenvale NG kerk vir ‘n damestee en sondagoggend in my eie somerset-wes dorp by heritage manor vir hulle oggenddiens. dan gee die skoolvakansie my ‘n welkome afnaweek voor ek weer op 3 oktober by kraaifontein se gesinsfees die erediens doen.
ag, en hiermee sommer weer ‘n uit-my-hart-uit DANKIE vir almal van julle wat al bogenoemde geleenthede geïnisieer en moontlik gemaak het!!

en as God stil is? soos ons Hom so dikwels ervaar?
‘n vriend vertel onlangs die volgende: tussen die verskillende bewegings van ‘n simfonie of klavierkonsert lyk dit ook asof die dirigent stil is, maar hy is nie -
as jy mooi kyk sal jy sien hy hou tyd …

wees stil en weet …
groete,

Annalise Wiid
0824563396
anniessong@absamail.co.za
www.annalisewiid.co.za

Kyk! NOG!!

Mei 22, 2010

kyk as jy kan!! :-)

NOG is hier! en my hart gloei onophoudelik!
reply sommer op hierdie epos as jy wil bestel. SPESIAAL vir my briefbende wat gereeld hierdie skryfseltjie kry: R 120 – pos en pak ingesluit (dubbel CD, 26 snitte + 2 bonus CD Rom-dvd’s) – net tot einde junie 2010. noem dit maar ‘n sokker special as jy wil :-)

saterdag sit ek in die vodashop in somerset-wes. dis woelig. onrustig. in die winkel sowel as buite in die straat. naweekgekheid. geskarrel en gejaag. lewe op beserkte loop.

in die blou lug bokant alles sirkel ‘n swerm groot wit voëls stadig, statig, ongesteurd … om en om en om – in die beeldskone, ritmiese, betowerende oerritueel van migrasie. “kyk!”, sê ek vir die tegnikus wat oor my foon gebuig sit, “kyk daar buite, kyk hoe mooi!” en vir ‘n oomblik lig die draaiende vlerke ons uit onsself uit op, uit die omringende onrus, na ‘n stil, skoon plek, waar drome en nuwe moontlikhede oop en asemrowend ontvanklik is …

my oë bly daar vasgenael. die tegnikus keer, argeloos, terug na sy werk.

en ek dink: so is dit soms met ‘n mens wanneer jy iets groots en ingrypends in jou lewe ervaar, soos die geboorte van ‘n kosbaarheid of die dood van ‘n geliefde: jou hart en jou kop bly verweef daarmee, vir jou staan die wêreld tydelik stil, jy sirkel, noodwendig, om en om en om die plek van vertrek en van nuwe begin – terwyl die alledaagse onbewus, onaangeraak, om jou voortspoed.

NOG, my nuwe CD doen dit vir my. ek wil net vir nog ‘n tydjie stilstaan, sirkel, dankbaar wees …
dalk doen pinkster dit ook hierdie jaar vir jou?
dalk het iets anders jou op die oomblik op so ‘n verwonderplek
kom ons koester wat vir ons kosbaar is

Annalise Wiid
www.annalisewiid.co.za


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.